1
VAN STADEN Kronieke van my van Staden geslag.
Trekboere Deur HA van Staden
2 Voorwoord Die onderstaande artikel het in die Brandwag van Vrydag 11 Junie 1965 verskyn. Dit lees as volg: ALTYD PROMINENT IN S.A. GESKIEDENIS ……. VAN STADEN deur Dr. C. Pama Maarten van Staden was een van die oudste koloniste wat hom in die nabyheid van die latere Kaapstad gevestig het. Hy het met sy vrou Maria Ernesta van Amerongen, al voor 1686 na Suid-Afrika gekom en hulle seun Marthinus, wat nog in Holland gebore is, saamgebring. (Hierdie is nie heeltemal korrek nie, maar die korrekte detail word later verskaf. ) Nadat sy eerste vrou oorlede was, hertrou Maarten met Catharina Willemse wat uit Griessen-Nieuwkerk, dig by Gorkum in Nederland, afkomstig was. Hierdie huwelik was met ses kinders geseën en omdat drie van hulle seuns was, het hierdie familie stadig maar seker oor die ou Kaapse kolonie en later oor die res van Suid-Afrika uitgebrei tot in Rhodesië. Verskillende plekname o.a. Die bekende Van Stadenspas, herinner aan hulle pionierswerk. Baie van hulle het aan die groot trek deelgeneem in Kaffir- en ander oorloë geveg, by die Rebellie aangesluit en Van Stadens word eintlik by elke groot gebeurtenis in die Suis-Afrikaanse geskiedenis genoem. Vanwaar het hulle oorspronklik gekom en waaraan het hulle hul van ontleen? Staden was in die Middeleeue ʼn belangrike dorp in Wes-Vlaandere, nie vêr van Ieperen en Brugge nie. Dit bestaan trouens vandag nog. In die dorp het ʼn ou kasteel gestaan en sowel oor die dorp as oor die kasteel bestaan geskiedkundige literatuur. Soos dit met so baie Suid- Nederlandse of Vlaamse families die geval was, het een tak Rooms gebly en in Vlaandere bly woon en ʼn ander tak het tot die Hervormde geloof oorgegaan en na die Protestantse noordelike Nederland uitgewyk. Van Staden stam van die Nederlandse familie Van Staden af, die Vlaamse tak het hulle later verfrans en word nou meestal “de Staden” genoem. Albei takke het darem dieselfde familiewapen bly voer nl. vyf afgeslote swart ruite op ʼn skild wat “deurgesny” is van silwer en rooi. Bo die spits van elke ruit is ʼn sg. Merlet of meerltjie geplaas, ʼn voëltjie wat geen snawel en geen pote het nie en net in die heraldiek voorkom. Oorspronklik is hulle waarskynlik maar net vir skietdoeleindes gebruik. Hierdie meerltjies staan ook weer as helmteken bo-op sg. “wrong” (krans) van helm. Ek het in die Kaapse argief geen ou seëlafdrukke van die wapen gevind nie. Dit lyk darem waarskynlik dat ook Maarten van Staden, die stamvader, tot die ou VlaamsNederlandse familie behoort het en dat hulle dus inderdaad ʼn reg op hierdie wapen het. Die Suid-Afrikaanse van Stadens plaas die voëltjie van die helmteken meestal tussen sg. Vlug (twee vlerke), wat die van Stadens in Europa nie doen nie. ʼn Mens kan dus die een van die ander sodoende onderskei. Hierdie wapen word vandag deur die meeste van Stadens so gevoer.
3 ----o---(Die Brandwag was die eerste Afrikaanse gesinstydskrif wat vanaf 1910 tot 1965 gepubliseer was. Dit is die voorloper van latere Afrikaanse tydskrifte soos Huisgenoot en was weekliks gepubliseer deur Afrikaanse Pers Bpk.)
4 Hoofstuk 1 - Inleiding Die soeke na ʼn mens se voorgeslagte en familiegeskiedenis is meer as net bloot interessante inligting. Dit raak aan iets van jou identiteit. Jou soeke om te behoort. In die boek van professor Herman Giliomee, Die Afrikaners, word Elie Wiesel soos volg aangehaal: ”To live without a past is worse than to live without a future.” Ek is oortuig dat ʼn mens se geskiedenis wel ʼn rol te speel het in die perspektief wat ʼn mens op jou omstandighede en toekoms het. Dit is ook gou duidelik dat elke geslag met sy eie probleme of uitdagings geworstel het en dat die probleme van die voorgeslagte dalk veel groter was as die wat tans beleef word. Tog het die familie, ten spyte daarvan, vir honderde jare steeds floreer en bly voortbestaan. Ek wil dus hierdie dokument opdra nie net aan die van Staden familiegenote in die breë nie, maar veral aan my kinders en toekomstige kleinkinders en al die van Stadentjies wat nog kom. Hoewel hierdie skrywe op my bloedlyn van die van Staden familie gefokus is, is ek van mening dat enige ander vertakking van die van Staden familie ook hierby aanklank sal vind. As daar een ding is wat soos ʼn goue draad in die geskiedenis van die van Stadens ingeweef is, is dit hulle geneigdheid om nie verlief te neem met hulle omstandighede nie, maar eerder weg te trek en beter weivelde te gaan soek. Die motiverings het gewissel maar sluit in godsdienstige, ekonomiese en politieke redes. Hierdie skuiwe het plaasgevind oor kultuur, taal en selfs kontinent’s grense heen, maar die verwagtinge van die nuwe omstandighede het altyd die risiko’s van die trek oortref. Dit spreek vir my van iets van ʼn optimisme rondom die toekoms ten spyte van soms haglike omstandighede en ook dat hulle geglo het dat hulle nie net bloot aan die noodlot oorgelaat is nie, maar dat hulle self iets aan hulle eie toekoms sou kon doen, ”masters of their own destiny”. Hulle het meestal nie die groep gevolg nie, maar ʼn baie meer individualistiese benadering gevolg. Dit is tipies, nie net van die van Stadens nie, maar die Afrikaners in die breë. Dit is dan ook hier waar die bekende storietjie ontstaan het dat as jy twee Afrikaners alleen op ʼn eiland los, jy na ʼn jaar sou vind dat hulle twee politieke partye en drie kerke gestig het. Die tweede eienskap wat duidelik uitstaan is dat daar heelwat geslagte van boere of landbouers was. Maarten, wat na die Kaap gekom het, het uit ʼn sterk “hoveniers” familie gekom en het sy beroep in die Kaap as boer aangegee. Daarna was die familie hoofsaaklik trekboere en het later deel van die Boerevolk uitgemaak. Die landbou was dus in hulle bloed. Vandaar die subtitel van hierdie dokument – Trekboere. Dit wil voorkom asof die van Stadens na aan die grond en die natuur geleef en ʼn waardering gehad het vir dinge wat groei. Ek het dan ook self so ʼn ingewortelde liefde vir bome en daarom het ek in my eie voorstedelike tuin in Pretoria nie minder nie as vyf koorsbome, drie soetdoring bome, sewe wit-karees, een rooi-essenhout, een kameeldoring, een swartapiesdoring, een papierbasdoring, een olienhout, een wit-stinkhout en een karob-boom geplant nie. Dit tesame met nog ʼn magdom ander plante en struike. As daar nog spasie was sou daar nog ander bome soos anabome, wilde sering, van wykshout en
5 mingerhoutbome ook gestaan het. Ja, die hoveniersbloed vloei steeds sterk.
Koorsbome in my tuin in Pretoria.
6 Ek wil my dank en waardering uitspreek teenoor my oorlede vader se twee broers, Christoffel Daniël van Staden en Matthys Johannes van Staden, of soos ek hulle leer ken het as Oom Stoffel en Oom Thys, vir hulle hulp en inligting met die skryf van hierdie dokument. Hulle is die laaste twee oorlewendes van die geslag voor my eie en ek het probeer om iets van hulle kennis oor die voorgeslagte te probeer vasvang. Ek wil ook dankie sê vir Mari Mosterd wat die stamboom vanaf Maarten van Staden wat Kaap toe gekom het, tot by my oorlede vader opgestel het. Sonder Mari se stamboom sou hierdie dokument nie die lig gesien het nie. Ek wil ook Chris Meurer bedank vir sy inligting oor die van Stadens in Nederland. So is daar twee geslagte voorouers bygevoeg waarvan ek glad nie bewus was nie. Hoewel ek gepoog het om die detail van hierdie dokument so noukeurig mootlik te dokumenteer, was ek verplig op talle aannames en afleidings te maak. Ek sal gevolglik dankbaar wees as ek regstellings asook aanvullende inligting kan ontvang wat die kwaliteit van hierdie dokument kan verbeter.
Verkorte stamboom: 1. Vader van Staden (gebore +- 1535) 1.1 Christiaen van Staden (gebore+- 1565) 1.1.1 Jan Christiaense van Staden (gebore+- 1595 Amsterdam Nederland) 1.1.1.3 Maarten (Marten) Jans van Staden (gebore1638 Haarlem Nederland) 1.1.1.3.1 Marthinus (1) van Staden (gebore 1675 Werkhoven Nederland) 1.1.1.3.1.2 Marthinus (2) van Staden (gebore 1706 Drakenstein Kaap) 1.1.1.3.1.2.6 Jacobus Frederik van Staden (1) (gebore 1740 Swellendam) 1.1.1.3.1.2.6.6 Jacobus Frederik van Staden (2) (gebore 1772 Swellendam) 1.1.1.3.1.2.6.6.1 Jacobus Frederik van Staden (3) (gebore 1794 Graaf-Reinet) 1.1.1.3.1.2.6.6.1.5 Marthinus Jacobus van Staden (1) (gebore 1831 Beaufort, Kaap) 1.1.1.3.1.2.6.6.1.5.1 Jacobus Frederik van Staden (4) (gebore 1854) (My oupagrootjie) 1.1.1.3.1.2.6.6.1.5.1.1 Marthinus Jacobus van Staden (2) (gebore 1876) (My oupa se ouer broer) 1.1.1.3.1.2.6.6.1.5.1.2.Matthys Johannes van Staden (gebore1883 Pretoria) (My oupa)
7 Hoofstuk 2 - Oorsprong Daar bestaan meer as een teorie oor die oorsprong van die van Staden familie en familiegeskiedenis, omdat Staden, of afleidings daarvan, ʼn van, naam of pleknaam is wat in verskeie tale en lande voorkom. Dit is veral die woord Stade wat baie wyd voorkom. Een navorser het bevind dat daar weinig geboorterekords van Van Stadens in Amsterdam voor die middel 1600’s opgespoor kon word. Hy het dus ʼn teorie geformuleer dat die van Stadens van die stad Stade in Duitsland afkomstig is. Hierdie baie ou stad, in die noorde van Duitsland, naby Hamburg, het op 26 Mei 1659 aan die brand geraak en twee derdes van die stad is toe in puin gelê. Dit was ʼn taamlik algemene probleem met die stede van destyds, wat meestal met hout gebou was en alle verhitting wat deur vuur gedoen was. Na die groot stadsbrand het baie inwoners na ander wêrelddele uitgewyk. Dit is ook dan hierna, dat die geboorterekords van Van Stadens in Amsterdam aansienlik toegeneem het. Dit pas egter nie baie mooi in by die feit dat Maarten van Staden, wat later na die Kaap gekom het, in 1638 in Haarlem gebore is nie. Dit is meer as twintig jaar voor die stadsbrand in Stade, Duitsland. Dr Pama, wat baanbrekerswerk rondom genealogie in Suid-Afrika gedoen het, het egter ʼn baie beter verklaring. Hy beweer dat die oorsprong van die van Stadens, van die dorp Staden in België was. Soos dit in die artikel in die Brandwag genoem word, het baie gemeenskappe tydens die hervorming in die kerk van mekaar geskei geraak. Die suide, met Frankryk as middelpunt, het Rooms gebly, met die protestante wat uitgewyk het na Nederland en Duitsland wat meer verdraagsaam teenoor die protestante was. Daar moet onthou word dat België in daardie jare eers onder Franse en toe onder Spaanse besetting was, waar die Roomse kerk ook die staatskerk was. So kry jy vandag families wat de Staden genoem word in Frankryk en van of von Staden in Nederland en Duitsland. Die feit dat hierdie verskillende families bykans dieselfde familiewapen gebruik, bewys hulle verwantskap. Dit is dus feitlik seker dat die van Stadens van die dorp Staden in België afkomstig is en dat dit waarskynlik hul oorspronklike vaderland is.
8
Uitbeelding in dorp Staden – Desember 2011
9
Hoofstuk 3 – België / Vlaandere
Kaart van Vlaandere van 1609 deur kartograwe Matthias Quad en Johannes Bussemacher, gegraveer en uitgegee vanaf Kohln Duitsland. Staden word nie op die kaart aangedui nie, maar dit is so ʼn entjie suid van Bruggen af. Bruggen, of Brugge vandag, is so rigting tien uur vanaf Gent wat in die middel van die kaart met ʼn rooi kol aangedui word.
Vroeë Geskiedenis Dit is belangrik om die geskiedenis van België, of meer spesifiek Vlaandere te verstaan, om iets te wete te kan kom oor waar die eerste inwoners van die dorp Staden vandaan gekom het, wat hulle deurgemaak het en waarom daar van Staden af weggetrek is.
10 Die Romeine, onder leiding van Julius Caesar, het hierdie gebied, na anneksasie, Gallia Belgica genoem. Jare later, na onafhanklikwording, het hierdie name die naam België geïnspireer. Na die val van die Romeinseryk in 500 AD het Frankiese Germane, wat afkomstig was van streke oos van die Rijnrivier, weswaarts getrek en die noorde van die gebied beset. Dit het die taalskeiding veroorsaak wat vandag nog prominent is met Frans in die suide en Vlaams in die noorde. Daarna het die gebied ʼn tydperk van plunderaars van buite, veral deur die Vikings, beleef. Dit het gelei tot die feodale stelsel waar ʼn heerser ʼn klein gebied vanuit ʼn kasteel of vesting beheer en beskerming in ruil van verskeie tipes belastings verleen het.
So het die gemeenskap van Staden, net suid van Brugge in die streek Vlaanderen, ook rondom ʼn kasteel met die naam Staden ontstaan. Dit sal later in meer besonderhede bespreek word. Hierdie streek, veral die gebied tussen die drie stede, Brugge, Gent en Ieper, waarin die kasteel of dorp Staden sentraal geleë was, het ʼn baie ryk geskiedenis, maar eers iets rondom die taal. (Ieper word nie op die kaart aangedui nie, maar is basies geleë op die onderste of suidelike punt van die driehoek met Brugge en Gent, net wes van Kortrijk wat wel op die kaart aangedui word)
11 Hoofstuk 4 – Watter taal het die van Stadens gepraat? Die taal wat in die 1100’s in Wes-Vlaandere gepraat was, is nie dieselfde taal as wat vandag, meer as nege honderd jaar later, daar gepraat word nie. Vandag word daar meestal Wes-Vlaams in Staden gepraat. Die naam Staden word in hierdie dialek uitgespreek met ʼn klanklose “d”. Dus word Staden foneties as Staen uitgespreek. Daar is ook ʼn geval waar Staden as Staen aangeteken is op ʼn kaart wat uit die 1600’s dateer. Dus moet daar afgelei word dat die gebruik van die klanklose “d” al van die vroegste tye af plaasgevind het.
Sien Staen so met die rooi pyl aangedui op uittreksel van die ou kaart “BrugseVrije 1664” Maar watter taal sou die van Stadens gepraat het toe hulle nog in Staden gebly het? Daar is in 1932 ʼn dokument ontdek wat vermoed word uit die jare 1100’s dateer. Dit is dieselfde era as wat die kasteel, Staden, gebou was. Hierdie dokument is vanaf WesVlaandere afkomstig en wat dit so besonders maak is dat dit ʼn liefdes gedig bevat wat twee keer, net in verskillende tale neergeskryf was. Die een taal is Latyn en die ander word as die oorspronklike taal beskou waaruit Vlaams, Nederlands asook Afrikaans ontstaan het. Die taal word Wesnederfrankies genoem. Die gedig in Wesnederfrankies lees as volg: Hebban olla uogala nestas hagunnan hinase hi(c) (a)nda thu uuat unbidan uue nu In Latyn lees dit so: Habent omnes uolucres nidos inceptos nisi ego et tu. Quid expectamus nunc. Die vertaling in Nederlands wat nader aan Wes-Nederfrankies is, lui as volg: Hebben alle vogels nesten begonnen, behalve ik en jij. Waarop wachten we nu?
12
In Afrikaans sou ons sê: Het alle voëls begin nesmaak, behalwe ek en jy? Waarom wag ons nog? Hier is ʼn weergawe van die oorspronklike dokument:
“ʼn Vergroting van die “Hebban olla uogalas” lyk so:
Dit is dus duidelik dat die taal van die van Stadens nie net gedikteer was deur die land of omgewing waarin hulle gelewe het nie, maar ook, omdat tale nie staties is nie, deur die tyd waarin hulle geleef het. Met die verandering van milieu het die taal dan ook so verander dat dit te betwyfel is of die voor en nageslagte mekaar goed sou kon verstaan het.
13
Hoofstuk 5 - Staden Staden was ʼn gemeenskap wat gedurende die jare 1100 ontstaan het aan die walle van die Loobeek (of Luikebeek). Die word “ loo” beteken bos of bosryk en “beek” dui op ʼn stroom of spruit. Dit was dus ʼn baie bosryke omgewing wat, soos reeds genoem, so min of meer tussen die hedendaagse dorpe Brugge en Ieper geleë is. Hierdie is vandag nog by uitstek ʼn vrugbare omgewing waar veral met groente geboer word. Dit kan daarom afgelei word dat die inwoners van Staden, oorspronklik hoofsaaklik boere was. Dit was die tye van die feodale stelsel waar heersers gewoonlik in ʼn kasteel gebly het en dan belastings van die gemeenskap in ruil vir beskerming en regspraak geëis het. So ʼn kasteel is dan ook in hierdie tydperk opgerig. Die naam van die kasteel is dan ook in 1115 Staten genoem. In 1127 is die naam verander na Stathan nadat die kasteel verwoes was en weer opgebou was. In 1149 verander dit weer na Stades en dan finaal in 1185 na Staden. Die woord staden beteken woonplek of nedersetting. Hierdie kasteel het ʼn geskiedenis van verskillende here of heersers met ʼn tyd van totale verval nadat die adel hulle gesag tydens die Franse revolusie verloor het. Die kasteel is later weer herstel maar die Duitsers, die ene veldmaarskalk Von Hindenburg, het dit gedurende die Eerstewêreldoorlog as plaaslike hoofkwartier gebruik. Op 13 Julie 1917 het hierdie kasteel deur kanonne van Engeland onder skoot gekom en is totaal vernietig, met groot ongevalle onder die Duitse offisiere. Die kasteel is nooit weer herbou nie en in 1958 is die murasies finaal opgeruim. Van die ou kasteel bestaan daar vandag nog net een muur en ʼn sitbankie as monument, van die oorspronklike klip, wat oorgebly het.
14
Staden kasteel monument
Foto’s van die oorspronklike Staden kasteel:
15
16
Voor 1280 het die kasteel aan Jan van Gistel behoort, tot die middel 1400’s, aan Jan van Moorslede, en daarna tot 1472 aan die here van Lichtervelde. Die daaropvolgende eienaars was die here van Noyelles wat in 1472 die "Hof van Staden" deur middel van ʼn huwelik verkry het. In 1648, word die kasteel verkoop aan Claudius de Carnin. Onder Franse besetting van die Westkwartier (gedeelte van Vlaandere), verhef Lodewijk XIV die eienaar, Jan de Carnin tot "Graafschap van Carnin en Staden" (1712). Die "Hof van Staden" was verantwoordelik vir die regspraak en heffing van belasting en het onder die heerskappy van Ieper gesorteer.
Daar moet onthou word dat die inwoners van Staden nie hierdie naam gedra het terwyl hulle in Staden gewoon het nie. Dit was eers na hulle na ander gebiede uitgewyk het dat hulle die naam van Staden as ʼn beskrywing van herkoms gekry het. Dit was die algemene gebruik om dit so te doen as verdere onderskeiding, meer as net die naam van die persoon. ʼn Bekende Bybelse voorbeeld van hierdie gebruik is, Simon van Sirene wat Jesus se kruis gedra het. ʼn Ander metode van benaming wat ook populêr was, was om die eerste naam van die vader te koppel aan die kinders soos byvoorbeeld Janse van Staden as die vader se eerste naam Jan was. Dit het beteken dat die kinders die pa se naam as tweede naam gedra het, maar dit was nog steeds nie ʼn permanente familienaam nie. Hierdie gebruik het ook onder die van Staden voorgeslagte voorgekom.
17 Hoofstuk 6 – Brugse Metten Vlaandere het ʼn baie interessante geskiedenis en hoewel dit nie direk met die Van Staden familie verbind kan word nie, is dit vanselfsprekend dat die Van Staden voorsate hierdie geskiedenis meegemaak het. Die Franse soldate trek die stad Brugge binne. Vroeg in die tweede millennium het die gebied in Vlaandere met die drie stede as kerne, Gent, Brugge en Ieper, geweldige ekonomiese opbloei beleef. (Daar moet gelet word dat die kasteel Staden feitlik sentraal tot hierdie drie stede geleë was) Dit was veral die wol-wewery wat die ekonomie gestimuleer het met wol wat nie net vanuit hierdie streek gekom het nie, maar ook vanaf verskeie ander gebiede soos veral Engeland en waarna die weefstof ook dan weer verder uitgevoer was. Dit het ook vir velerlei ander produkte gegeld met sterk ondersteuning van ambagslui soos byvoorbeeld messelaars, ystersmede asook handelaars en boere. Die destydse kuns en argitektuur van hierdie streek kan met die van noord Italië vergelyk word en is vandag nog duidelik sigbaar. Dit het gelei tot sterk ambags- en handelsguldes wat gevorm is om die bedryf te beheer. Handelskepe van oor die hele Europa het by die hawestad Brugge aangedoen en materiaal en weefstof geruil vir kaas, wol, lood, tin; steenkool van Engeland; varke van Denemarke; wyn van Spanje, sy en oosterse speserye van Venesië en Genua en pels van verre Rusland en Bulgarye. Die gebied het floreer en teen die jaar 1340 was Gent naas Parys, die grootste stad in Europa. In 1309 is die eerste aandelebeurs in die wêreld in die stad Brugge gevestig, maar boerdery sou by uitstek die sterkste bedryf in die streek bly. Hierdie ekonomiese oplewing het dan veroorsaak dat die burgery of werkersklas baie rykdom opgebou het en dus ʼn goeie bron van belasting vir die adel geword het. Dit het gou spanning veroorsaak deurdat die ambagslui, handelaars en boere ʼn weerstand teen die belastings ontwikkel
18 het. Die heersers of ridders wat in die onderskeie kastele gewoon het, was grootliks verteenwoordigers van die koning en moes die grootste gedeelte van die belastings wat deur hulle gevorder is, aan die Franse koning oorbetaal. Die spanning was aan die oploop tussen Frankryk en Engeland wat teen 1337 sou uitloop as die begin van die honderd jarige oorlog. Die handels-guldes het egter hul simpatie by hul groot handelsvennoot, Engeland, geskaar, hoewel Vlaandere onder Franse heerskappy was. ʼn Paar leiers uit die burgersklas kom toe in opstand teen die Franse en begin om belastings te weerhou en verklaar die vryheid van die gebied. Let daarop dat die Franse revolusie eers sowat agthonderd jaar later sou volg. Die Franse koning stuur in reaksie ʼn garnisoen van 2000 soldate na Brugge om die revolusie te onderdruk. Die Franse soldate val Brugge binne en verjaag die opstandige burgerlikes uit hulle huise. Op Vrydag 18 Mei 1302, die nag van die Brugge Metten, slaan gewapende burgerliks met ʼn verrassingsaanval op die Franse toe. Almal wat aangekeer was moes die woorde “skild en vriend” sê. (Daar is onsekerheid of dit nie dalk “gulde’s vriend” was nie) Die Franse kon nie hierdie Vlaamse of Wesnederfrankiese woorde uitspreek nie en is so geïdentifiseer en om die lewe gebring. So word omtrent 800 Franse in een nag gedood. Daar word beweer dat die Franse soldate meestal dronk was en glad nie enige teëstand verwag het nie. Die res van die soldate het toe uit die stad gevlug. Voorstelling van een gelijkaardige slachting. Het betreft een beschilderd reliekenschrijn dat bewaard wordt in het klooster van Mariënlof te Kolen-Kerniel Die naam Brugse Metten het te doen met die meegevoel met ʼn soortgelyke Siciliaanse revolusie, wat ʼn paar jaar vroeër, in 1282, plaasgevind het en die Franse suksesvol van die eiland afgejaag het.
19 Hoofstuk 7 – Slag van die goue spore Dit is te verstane dat die Franse koning nie hierdie soort opstand sou verdra nie en stuur dadelik ʼn leër om die opstand te onderdruk. Op 11 Julie 1302, minder as twee maande na die Brugse Metten, ontmoet die Franse leër, ʼn klassieke feodale weermag, vergesel deur sowat 2500 ridders, 1000 soldate met kruisboë, 1000 soldate met spiese bewapen en 3500 ander voetsoldate, (8000 in totaal) die Vlaamse burgerlike leër van bykans 9000 man. Behalwe 400 adellikes op perde was al die Vlaandere voetsoldate. Hulle was egter goed bewapen as gevolg van die rykdom van die burgerstand. Die Vlaamse leër was veral met twee wapens bewapen, ʼn kort spies wat iets tussen ʼn knuppel en ʼn spies was, wat hulle ʼn “goedendag” genoem het en ʼn lang spies of ook “geldon” genoem.
. Op die boonste afbeelding kan die goedendag’s en geldons gesien word. Daar was tot voor hierdie geveg, nog nooit ʼn veldslag waar die voetsoldate ʼn leër van berede-soldate kon verslaan nie. Toe die geveg aanbreek het die Franse voetsoldate aanvanklik goeie vordering gemaak. Hulle word egter gou terug geroep sodat die ridders (lees adellikes) die oorwinning kon behaal. Daar was egter twee struikelblokke. Die gevegsterrein was naby ʼn spruit en baie ongelyk en die ridders het gesukkel om hul linies opgestel te kry. Die Vlaamse soldate het die geldons in die grond gedruk en met hulle voete vasgetrap en dan bloot die skerp punt voor die aanstormende ridders ingedruk. Dit het tot gevolg gehad dat vlaag op vlaag ridders bloot deur die voetsoldate gestuit was en meestal hul perde onder hulle gedood was. Toe die Franse ridders sien dat die geveg verlore is, probeer hulle vlug, maar die burgerlike weermag het nie die erkende oorlogsprotokol gehandhaaf deur vlugtende soldate te laat gaan nie. Die Franse is vir sowat 10 kilometer agtervolg en geen genade is betoon of krysgevangenis geneem nie. Die gevolge van hierdie slag was dat ʼn leër bestaande uit burgerlikes die leër van die Franse koning verslaan het en dat voetsoldate ʼn berede
20 weermag verslaan het. Die Skotte het ook dan kort hierna, aangespoor deur die slag van guldensporen, hierdie tegniek toepas en so die Engelse weermag verslaan. Hierdie dag is tot vandag toe ʼn Belgiese vakansiedag.
Daar is na die geveg honderde goue spore (waarmee ruiters perde aanspoor) afkomstig van Franse edelmanne op die slagveld opgetel en dit het vir meer as tagtig jaar in ʼn kerk, as bewys van die triomf, bly hang.
Voorbeelde van die goue spore
21 Hoofstuk 8 – Slag van Roosebeke
Die slag van Roosebeke of Westrozebeke het op 27 November 1382 plaasgevind as deel van die 100 jarige oorlog wat tussen Frankryk en Engeland gewoed het. Met Vlaandere se ekonomiese verbintenis met Engeland en die streek se quasi onafhanklikheid van Frankryk, na die slag van die goue spore, het Frankryk die streek tagtig jaar later weer ingeval. Onder leiding van Philip van Artevelde het ʼn swak opgeleide asook swak bewapende burgerlike mag teen die Franse opgetrek en mekaar by Roosbeke op die Goudberg sowat vyf kilometer suid van die nedersetting, Staden, ontmoet. Die Vlaamse mag was sowat 50 000 man sterk wat teen ʼn Franse leër met ʼn groot oormag opgetrek het. Die Franse het gou die oorhand gekry en volgens geskrifte het daar nie minder as 20 000 dooies op die slagveld bly lê nie. Die Franse het toe ook weer beslag op die goue spore gelê. Dit moes ʼn geweldige traumatiese ervaring vir die gemeenskap gewees het. Waarskynlik, het feitlik alle Vlaamse families in hierdie gebied verliese onder manlike familielede gely. Ek dink nie dit is te vergesog om die afleiding te maak dat van die familielede van die Vlaamse Van Staden familie, wat later na Nederland verhuis het, ook geliefdes tydens hierdie slagting verloor het nie.
Slag van Roosebeke (Jean Froissart, 1405)
Die kasteel in die agtergrond van die skets moet die kasteel Staden wees aangesien dit die enigste kasteel in die nabyheid van die geveg was.
22
Hierdie streek het die naam van die Brugse Vrije gedra. Hier is ʼn kaart van die streek wat later 1664 geteken is.
23 Hoofstuk 9 - Reformasie Hoewel daar vir meer as twee honderd jaar voor die Lutherse reformasie al verskeie vorme van verset en verandering plaas gevind het, het die kerkhervorming of reformasie basies afgeskop in 1517 toe Martin Luther die 95 stellings aan die kerkdeure van Wittenberg vasgespyker het. Dit het dadelik polarisasie tussen die sogenaamde protestantse en die Roomse kerk, wat ook die staatskerk was, veroorsaak. In die noorde met Duitsland, Nederland en die Skandinawiese lande het die Roomse kerk en staat ʼn meer verdraagsame houding teenoor die protestante gevoer, maar in die suide met veral Frankryk, Spanje en België was daar ongenaakbaar teenoor die sogenaamde ketters opgetree. België en meer spesifiek Vlaandere was sentraal tot die aanvanklike reformasie of protes teen die Roomse kerk en die eerste martelare het ook dan hier voorgekom. Na ʼn tydperk van ligtere strawwe, word die eerste protestantse martelare op 1 Julie 1523 op die groot mark in Brussel lewend verbrand. Hulle was twee monnike van die Augustynseklooster in Antwerpen. Beide Brussel en Antwerpen is met die pad langs minder as 100 kilometer van Staden af geleë.
24
Net om ʼn stukkie interessante geskiedenis aan te haal, het een van die martelare klaarblyklik net voor hy sterf uitgeroep: “ Ek sien rose wat uitgestrooi word.” Hierdie gebeure het Maartin Luther so aangegryp dat hy ʼn roos as kenteken aangeneem het. Hy skryf ook ter herinnering van die martelare die volgende lied: Een nieuw lied wij heffen aan Dat geev’ God onze Heere Te zingen, wat God heeft gedaan Te Zijner lof en ere. Te Brussel in Zuid-Nederland Door ’n tweetal jongelingen Die uit des Heeren milde hand Zeer schoone gaven ontvingen, Heeft Hij Zijn wondermacht betoond. (Hierdie lied is in Nederlands opgespoor, maar ek vermoed dat dit ʼn vertaling vanuit die oorspronklike Duits kon wees.) Na die dood van die eerste twee martelare, het die vervolging van die protestante sterk toegeneem met honderde martelare uit Vlaandere wat verbrand, onthoof of lewend begrawe was. Daar is ten minste twee aangetekende teregstellings van inwoners van die dorp Staden. Joos Adlbrecht en Jan de Hondt uit Staden is aangetekende gevalle wat in 1551 tereggestel is, maar daar kon ook verskeie ander van hierdie gemeenskap gewees het. Bogenoemde twee was as „'t faict van Luterie" aangekla. Dit is dus duidelik dat aanhangers van die Lutherse leer nie verdra is nie. Dit is daarom nie vreemd om te verstaan dat volgelinge van Luther weggevlug eerder as weggetrek het nie.
25 Hoofstuk 10 – Nederlandse Immigrante Dit was nie net die godsdienstige vervolging wat ʼn probleem geword het vir die inwoners van Vlaandere nie. In ʼn brief van ene Gaspar Hedio aan hertog Albrecht van Pruise, gedateer 26 Desember 1544, word beweer dat drie plae in Antwerpen heers:
Buitensporig swaar belastings Heftige vervolging van die protestante Duurder wordende lewensmiddele
Hierdie toestand het oor die hele Vlaandere gegeld en was dus ook op die inwoners van die dorp Staden van toepassing, veral omdat Antwerpen as een van die meer vooruitstrewende stede beskou was. Die vooruitstrewende wewery-stede, Brugge, Gent en Ieper se ekonomie was besig om te taan as gevolg van die kompetisie vanuit veral Engeland en omdat die Zwin-rivier wat Brugge met die Noordsee verbind, besig was om toe te slik. Dit het die beweging van skepe belemmer. Die politieke landskap het in daardie tyd ook verander. Karel die 5de word in die jaar 1500 in Gent gebore. Op die rype ouderdom van 15 word hy aangestel as Hertog van Brabant en heerser van die Nederlande, die huidige België, wat Vlaandere insluit. Die volgende jaar word hy koning van Spanje en daarna van Napels, Sardinië, Sicilië, die Spaanse gebiede van die nuwe wêreld, Mexiko, Peru en die Karibiese eilande. Hy word ook gekroon as koning van Duitsland en in 1519 aangestel as heerser van die Heilige Roomse Ryk. Hy was dus die magtigste heerser in Europa. Hy was glad nie geneë met die protestante wat die Roomse kerk ondermyn nie en in 1550 vaardig hy die sogenaamde “Edik van Bloed” uit, wat die doodstraf aankondig vir enigeen wat aan kettery skuldig bevind word. Verder stel hy swaar belastings in om sy oorloë te finansier. Dit was die laaste strooi vir ʼn groot aantal inwoners van Vlaandere wat ook daarna besluit om te trek. Die enigste gebied wat nie onder Karel die 5de se heerskappy was nie en ook nie vir die inwoners van Vlaandere ʼn groot taal hindernis ingehou het nie, was Nederland. Volgens een skatting het daar tot en met 1630 sowat 150 000 immigrante vanuit verskeie lande en gebiede na Nederland gestroom. Dit is duidelik waarom vanne belangrik geword het, om tussen hierdie mense te onderskei. Die stad van herkoms het ook gou as metode of gebruik van onderskeiding gevestig geraak. So het vanne of familiename dus ontstaan. Hoewel Napoleon in die vroeë 1800’s die familiename in Europa verpligtend gemaak het, was dit reeds sedert die vroeë 1500’s ʼn algemene gebruik.
26
Volgens die Britse historikus Jonathan Israël het die geskiedenis van Nederland in 1477 begin. Nederland was dus nog ʼn baie jong land in die middel 1500’s toe ʼn groot aantal protestantse immigrante vanuit Vlaandere na Nederland verhuis het. Daar word vermoed dat dit ook gedurende hierdie tyd, die middel 1500’s was, dat inwoners van die dorp, Staden in Vlaandere na Nederland verhuis het en toe die naam “Van Staden” in Nederland gevestig het. ʼn Nederlandse navorser in genealogie met die naam van Chris Meurer, het my ingelig dat die oudste van Staden wat hy in sy navorsing kon opspoor, die naam van Vader van Staden gedra het. Sy geboortedatum is onbekend, maar word op, om en by 1535 geskat. Daar word vermoed dat dit die eerste persoon is wat vanaf Staden in Nederland aangekom het en wat ook direk met die bloedlyn van die eerste van Staden wat in die Kaap aangekom het, verbind kan word. Hy was dus nie noodwendig die enigste van Staden in Nederland nie. Vader van Staden het vier seuns gehad, die oudste Christiaen (+-1565), die tweede Melchger(+-1565), die derde Gerrit (+-1570) en die jongste Antonius (+-1580). Daar bestaan ʼn vermoede dat een van die die seuns die naam van die stamvader gedra het, maar dit bly op hierdie stadium slegs ʼn vermoede. Die oudste, Chistiaen het net een seun gehad, Jan Christiaense van Staden wat heel waarskynlik in Amsterdam om en by 1595 gebore is. Die Christiaense wys net soos in die geval van Janse wat reeds genoem is, op seun van Christiaen. Hierdie naamvorm was al reeds ʼn gebruik voor familiename of vanne in gebruik gekom het. So lees ons ook in die Bybel van Simon seun van Jona. In die Hollandse idioom, of gebruik sou dit dus Simon Jonas gewees het.
27
Kaart van Nederland en België in die 16de eeu
28
Hoofstuk 11 - Die Van Staden stamvaders in Nederland Jan Chistiaense van Staden is oorlede na 1659 maar sy presiese sterfdatum is onbekend. Hy het sover bekend drie kinders gehad. Annetje Jans (1625), Christiaen Janse (1633) en Meerten (Marten) Jans (1638). Uit die navorsing blyk dit dat sy vrou in 1600 gebore is, maar haar naam en nooiensvan is onbekend. Die oudste twee kinders is albei in Amsterdam gebore, maar die jongste seun is in Haarlem gebore. Oor Jan Christiaense is baie min bekend. Daar word vermoed dat hy die Jan van Stade was, ʼn “brandewynbrander” wat in 1632 ʼn huis en erf in “Dirck van Hasselts Steegh” wat “t wapen van Emmerick uijthangende”(voorloper van straatnommers) in Amsterdam gekoop het. (GAA, Rechtelijk Archief, inv 2166, fol. 128) Dit is nodig om te verstaan dat in daardie tye geen geboortesertifikate of ID dokumente bestaan nie. Die spel van name en vanne het van tyd tot tyd verander en was nie altyd konsekwent gedoen nie. Die beste beskikbare inligting was doopregisters, eiendomstitelaktes, huweliksregisters, testamente en ander amptelike dokumente wat behoue gebly het. Dit is opmerklik dat daar in ʼn groot mate selfs in die vroeë Kaapse jare verafrikaansing in die uitsprake voorgekom het. Ek het probeer om so ver moontlik al die alternatiewe spel vorme deur te gee. Dit lyk of dit die regte tyd was vir Jan Christiaense om ʼn huis te koop, want in 1633 in Amsterdam is sy eerste seun, genaamd Christiaen Janse van Staden gebore. Hy trou op 25 September 1660, toe hy 27 jaar oud was met die 30 jarige Maria Weijtings uit Heusden wat in “de Fluwelenbrug” te Amsterdam gewoon het. Die huwelik was gesluit te Doorn. Doorn is ʼn klein dorpie naby Utrecht. Die beroep van Chistiaen Janse van Staden word aangegee as “hovenier op Maarsbergen” Dit is nodig om te weet dat “hovenier” vertaal kan word met tuinier. Dit was egter die persoon wat verantwoordelik was vir die kweek en tuinboukundige aspekte van die tuin van die Maarsbergse landgoed en het nou saam met die tuinargitek gewerk. Dit moet nie verwar word met “tuinman” wat die harde arbeid in die tuine moes doen nie. Die beroep “hovenier” is baie sterk in die van Staden geskiedenis in Nederland. Christiaen Janse is in 1697 op 64 jarige ouderdom oorlede. Hy was die eerste van vier geslagte “hoveniers” wat by verskeie adellike landgoedere gewerk het. Sy seuns Jan (Johan) en Sameul was ook hoveniers by verskillende bekende landgoede soos Maarsbergen, Soestdijk asook Huis ten Bosch in Den Haag. Ook die kasteel Nederhorst, Huis ter Nieuburch (Rijswijk), Honselaarsdijk en Hampton Court in Engeland. Johan se seun Christiaan Pieter van Staden (1688-1762), gedoop in die Domkerk in Utrecht, volg ook in die spore van sy pa. In onlangse navorsing na die oorspronklike tuinuitleg van Het Loo (vertaal as Die Woud), in Apeldoorn, is ʼn plan opgespoor deur Christiaan Pieter van Staden onderteken en wat beskou word as die oorspronklike tuin
29 plan van die tuine agter die huis of paleis. Die styl van die tuin-uitleg staan as Nederlands- baroque bekend. Wat vreemd is, is dat daar geen bewyse opgespoor kon word waar die Huis van Oranje hom aangestel het om sulke planne te teken, of dat hy ʼn tuinargitek was nie. Na talle navorsing word hy egter as die oorspronklike ontwerper van die agter tuine van Het Loo beskou. Hierdie paleis wat aan die Oranje- Nassau koninglike familie behoort, is in die 1980’s, geboue sowel as tuine tot hul 17de eeuse oorsprong en karakter gerestoureer. Dit is dan hier waar die oorspronklike planne so belangrik geword het. Dit is vandag naas ʼn koningshuis ook ʼn museum en word as een van die geskiedkundige en argitektoniese juwele van Nederland beskou. Dit is dus nie net in Suider-Afrika waar die van Stadens ʼn nalatingskap gelewer het nie.
Het Loo
30
Het Loo (tydens my besoek in Desember 2011)
31
Agter tuine van Het Loo soos deur Christiaan Pieter van Staden ontwerp is.
32 Hoofstuk 12 – Maarten van Staden Jan Christiaense se tweede seun, Maarten is in 1638 in Haarlem Nederland gebore. Dit was die gebruik by talle protestantse families om hulle seuns Martin te noem, ter ere aan Martin Luther wat die protestantse leer begin het. Dit kan dus afgelei word dat hierdie van Staden familie sterk protestantse verbintenisse gehad het.
Skets – Haarlem in 1600’s Sy naam word per geleentheid ook as Meerten, Marten en Marte gespel. In Nederland word sy naam ook ooreenkomstig sy ouer broer en suster as Maarten Jans van Staden aangegee (ook Marte Jans van Staades). In ʼn notariële akte van 1683 in Nederland teken hy sy naam as Maarten van Staden. In sy testament gedateer 1705 (in die Kaap) teken hy sy naam as Marten met een “a”. Ek het egter gekies om ter wille van konsekwensie in hierdie dokument by die dubbel “a” spelvorm te bly.
Maarten van Staden se handtekening op ʼn notariëleakte van 1683 (In Nederland)
33
Marten van Staden en Catharina Willemsz se handtekeninge op hul testament van 1705 (In die Kaap)
Maarten werk tussen 1675 en 1681 te Werkhoven naby Utrecht. Van 1681 tot 1685 werk hy in Doorn te Huis Doorn as “hovenier”. Weereens ʼn bewys dat die hoveniers bloed sterk in die familie gevloei het. Op daardie stadium het Huis Doorn behoort aan Caius Laurentius Barthram, seun van die graaf van Broeckdorff. Huis Doorn bestaan ook vandag nog. Dit het ʼn ryk geskiedenis, deurdat Keiser Wilhelm II, die laaste keiser van Duitsland, dit in 1919 gekoop het en tot sy dood daar gewoon het. Sy graf is ook op die eiendom. Ook ander bekendes soos barones Ella van Heemstra, die moeder van die bekende aktrise, Audrey Hepburn, het ook baie jare op die eiendom gewoon.
Borsbeeld van Keiser Wilhelm II voor Huis Doorn
Ek het gedurende Desember 2011 by Huis Doorn besoek afgelê. Dit is vandag ʼn museum, maar anders as by Het Loo, het van die 16de eeuse formele tuine niks oorgebly nie.
34 Huis Doorn
Huis Doorn In 1674 of dalk vroeër trou Maarten met Maria (Margaretha) Ernst (Ernesta,Ariens) van Amerongen. Uit hierdie huwelik is een seun Marthinus, gebore. Marthinus word dan ook op 6 Junie 1675 in die Oude Kerk te Werkhoven, Utrecht gedoop. Maria is egter oorlede voor 1677, vermoedelik nie lank na die geboorte van Marthinus nie, want op 25 November 1677 trou Maarten weer met Catharina (Catelijntje, Caetje) Willemsz in die “Nederlands Hervormd” kerk van Werkhoven. Sy was in Griessen Nieukerck gebore.
35 Nederlands Hervormde Kerk van Werkhoven Uit die tweede huwelik met Catharina is die volgende kinders gebore: Maria (Marije, Margje) 22-12-1678 Werkhoven Nederland Mourits (Maurus Louies) 11-07-1680 Werkhoven Nederland Jan (Joannes) 10-11-1681- Doorn Nederland Caspara 27-05-1683 - Doorn Nederland Willem (Wilhelmus) 15-03-1686 - Doorn Lijsbet (Elizabeth) 1690 - Drakenstein Kaap Pieternella 1692 - Drakenstein Kaap
Maarten en sy vrou en ses kinders kom vermoedelik in 1687 in die Kaap aan, want in daardie jaar word die plaas Bloemendal aan hom toegeken in die Simondium distrik naby Drakenstein. (Drakenstein het later Paarl geword). Dr. Pama gee egter die jaar van aankoms as 1686 aan. Dit lyk of Maarten hom aanvanklik in die Kaap gevestig het. Op die 31ste Januarie 1688 word aan Maarten verlof verskaf deur die Burger Raad om van die Kaap na Drakenstein te verhuis. Die skuif het waarskynlik op 10 Desember van daardie jaar plaasgevind, te oordeel aan die datum by die handtekening van Simon van der Stel. (1 STB 15/2, Attestatien) Daar bestaan ongelukkig nie ʼn “monsterollen” vir 1687 nie, maar in die 1688 rol word Maarten en sy vrou as vryburgers gelys. Sy beroep word aangegee as “vrijlandbouwer”. In 1697 word hy verkies as heemraadslid vir die distrik Drakenstein. In 1703 word hy aangestel as ouderling in die Kaapse gemeente. In 1706 was hy onder die nege persone wat vanweë hul stryd teen Wilhelm Adriaen van der Stel, voor die Raad van Justisie gedaag is. Maarten is op 7 November 1716 op die ouderdom van 78 jaar te Drakenstein oorlede. Sy vrou Catharina is ʼn jaar later in 1717 oorlede.
Van Staden skets - Paarlberg
36 Skets van die Kaap gemaak deur van Staden in 1710 (Watter lid van die van Staden familie hierdie skets en ander sketse gemaak het, is onbekend – vermoedelik Elizabeth van Staden of Lijsbet soos sy in die Kaap bekend gestaan het.)
Schalk Willemz van der Merwe, (seun van Willem Schalk waarvan later meer geskryf word) heemraad van Drakenstein, koop twee maande na sy huwelik met Catharina Cloete beide plase Overveen en Bloemendal op 27 Augustus 1717 van Maarten van Staden. Maarten het die plaas Overveen, wat geskei was met Bloemendal deur die plaas van Willem Schalk van der Merwe, genaamd Kunnenberg, later in sy lewe bekom. Schalk Willemz se transaksie moes uit die boedel van Maarten of selfs Catharina gewees het, want Maarten is reeds in 1716 oorlede. In die boedel van Maarten word onder andere die volgende gelys: Woonhuis met twee kamers (slaapkamers), voorhuis en kombuis asook ‘n wynkelder, stookhuis en koringhuis. Ses mansslawe en een slafin. 54 beeste, 4 perde en 282 skape. Van Staden skets - Kerk met toring 1710 (sien kerk ook regs op boonste skets van Kaap)
37
Kaart van Stellenbosch en Drakenstein omgewing met settelaar plase aangedui
38
Kaart gevind op plaas Bloemendal (sien uittreksels hieronder)
39 Ek vermoed dat die Willem Schalk van Zijl, eerder Willem Schalk van der Merwe moes wees. Na Maarten van Staden se dood het hy soos vermeld Bloemendal en Oveveen uit die boedel gekoop en dus al die plase in die groep soos op die volgende kaart gesien, besit. Uittreksel uit kaart soos bo aangedui:
Die drie plase Bloemendaal, Kunenburg en Overveen word duidelik op die kaart aangedui, met die kerk daar digby. Dit is interessant om van kennis te neem dat Bloemendal en Overveen twee dorpe of gemeenskappe is wat vandag nog in Nederland langs mekaar geleë is. Dis in die gebied net wes van Haarlem in Nederland.
40
Vandag is die oorsponklike plase meestal onderverdeel en baie name het verlore gegaan. Die enigste aanduiding van Bloemendal, is op die hek van die plaas Paddabult. 33.825899, 18.936208
41
Plaas Bloemendal (Paddabult)
Nog ‘n Van Staden Skets - Stellenbosch
42 Hoofstuk 13 – Willem Adriaan van der Stel
Vir die ouer mense wat nie meer die geskiedenis so goed kan onthou nie en vir die kinders wat nooit die geskiedenis op skool geleer het nie, wil ek eers ʼn stukkie geskiedenis van die Kaap vertel. Johan Anthonisz (Jan) van Riebeeck kom op 6 April 1652 in die Kaap aan. Hy was nie deur die Nederlandse regering gestuur nie, maar deur ʼn maatskappy genaamd die Vereenigde Oostindisce Compagnie (VOC). Hy stig ʼn nedersetting wat hy die Cabo van Goeie Hoop noem. (die Portugese invloed was nog sterk met die word Cabo en nie Kaap nie) Die naam Kaapstad sou eers meer as ʼn eeu later kom. Die VOC was ʼn magtige maatskappy, beheer vanaf Amsterdam, deur sewentien direkteure wat as die Here Sewentien bekend gestaan het. Hierdie maatskappy was soewerein en het selfs teen lande oorlog verklaar en gebiede in besit geneem. Die VOC het ʼn oosterse hoofkantoor -Raad van Indië – in Batavia (vandag Djakarta) in Java gestig, met ʼn goewerneur generaal aan die hoof. Die Kaapse nedersetting is onder gesag van die Here Sewentien sowel as die Raad van Indië geplaas. Die amptenare van die VOC was gewoonlik vir ʼn kontrak tydperk aangestel en hulle kon nie bedank soos hulle wou nie. Om geld te spaar het Jan van Riebeeck toe sekere amptenare vrygestel van hulle diens aan die Kompanjie op voorwaarde dat hulle op hulle eie boer en dan hul produkte aan die kompanjie verkoop, sogenaamde vryburgers. Die VOC het besluit dat die amptenary nie plase mag besit en produkte aan die Kompanjie lewer nie, om die vestiging van monopolie te verhoed. Goewerneur Simon van der Stel, ‘n opvolger van Jan van Riebeeck, het wel ʼn plaas Constantia (later Groot Constantia) van die VOC ontvang. Alle grond het aan die Kompanjie behoort en is deur hulle uitgedeel soos hulle wou. Willem Adriaan van der Stel, seun en opvolger van Simon, ontvang toe die plaas Vergelegen aan die voet van die Hottentots-Hollandberge. Net vir die interessantheid, Vergelegen is naby die huidige Somerset-Wes. Dit word vandag as feitlik deel van Kaapstad gesien. Tog het dit die naam Vergelegen gedra. Die afstande het oor die jare baie korter geword. Hier het Adriaan vir hom ʼn plaas op die skaal van ʼn Europese landgoed uitgelê met 200 slawe en sestig wit knegte. Kort voor lank het hy 18000 skape en 1000 beeste besit, genoeg om aan die totale vleis behoefte van die Kompanjie te voorsien. Sy plaas het ook ʼn vyfde van die totale koringoes gelewer en saam met sy familie het hulle in die totale wyn behoefte van die Kaap voorsien. Dit het die vryburgers natuurlik ontstel omdat hulle mark totaal bedreig was. ʼn Klompie leiers, onder woordvoering van Adam Tas, het toe ʼn versoekskrif aan die owerhede in Batavia gestuur en die amptenary van wangedrag beskuldig. Die owerhede in Batavia stuur dit toe weer aan vir die Here Sewentien in Amsterdam. Dit is weer aan die Goewerneur in die Kaap vir verslagdoening gestuur.
43 Goewerneur van der Stel en sy medeamptenare was natuurlik briesend en het ʼn groot aantal vryburgers gedwing om ʼn dokument te onderteken wat sy onskuld bewys. Van der Stel het ook op die dagboek van Adam Tas, as deel van sy bewysstukke, beslag gelê. Hy het later groot dele van die dagboek vernietig maar dele het behoue gebly. Hier is ʼn interessante uittreksel uit die dagboek: Maandag den 22e.(1706) S'morgens goed weer. deese voormiddag quamen hier de Messrs. van der Heijden, van der Bijl, Pretorius, Jan Elberta, alsmeede de kranketrooster van der Maas, mijn Kijsbroeder, en Boggeveen, ook quam hier Mr. Kina, Hercales da Free, en Appel, Arij van Wijk, die ons verhaalde dat van Staden en van Zeijl waren afgevallen, maar dat hij van gevoelen was dat de meeste mensehen in de Wagenmakers Valleij niet souden teekenen. Wij spraken met elkanderen seer omstandig van de miaselijke woeling van den gonverneur en zijn onhebbelijke zendeling den Landdrost. Eenige der vrinden gingen na Mr. van der Bijl, de andere bleeven bij mij ten eeten. Na den eeten quam Hans de Smit met Schipper Bahn. Wij namen Hans voor, en Bloegen hem voor oft niet billik was dat hij ons een verklaring gaf dat bij tegen sijn sin hadde geteekent, en dat hem zulk leed was, dat hij uijt vreese hadde geteekend, en niet eens geweeten waarom hij zijn naam hadde getekent. Toen Hans de Smit zalx verrigt hadde is hij met Schipper Balm na de Caab. Dit is duidelik dat Tas berig ontvang het dat Van Staden en Van Zijl die dokument onderteken het wat Van der Stel se onskuld bewys. Hy betwyfel egter dat die ander mense vanuit die Wamakersvallei Van der Stel se dokument sou onderteken. Ek vermoed dat die optrede van Maarten van Staden dieselfde as die van Zijl was, wat self een van die drie oorspronklike opstellers van die versoekskrif teen Van der Stel was. Kort na die berig van Willem Van Zijl se afvalligheid het Tas hom op sy plaas Vrede en Lust besoek en hom oortuig om sy ondersteuning tot Van der Stel se dokument terug te trek. Of Adam Tas, Maarten van Staden wat skaars vyf kilometer daarvandaan geboer het, ook besoek het, is onduidelik, maar kort hierna word Willem van Zijl en agt ander samesweerders, insluitend Maarten, beveel om in die kasteel te verskyn. Nadat hulle die opdrag ignoreer, word hulle deur middel van ʼn plakkaat voor die Raad van Justisie gedaag. Toe hulle nie opdaag nie word hulle in hul afwesigheid op 9 Augustus 1706 skuldig bevind.
Die nege, insluitende Maarten van Staden is met 200 riksdaalders beboet, hulle is vir vyf jaar na Mauritius vir harde arbeid sonder vergoeding verban, al hul besittings is aan die owerhede verbeurd verklaar en hulle sou nooit weer kwalifiseer vir enige amptelike of militêre posisies nie.
44 Die agt het daarna in die veld naby Vier-en-twintig-rivieren gaan wegkruip en in die berge, bosse en grotte geskuil. Twee van hulle is later gevang toe hulle vir oestyd na hulle plase teruggekeer het. Maarten van Staden is egter nooit gevang nie. Ses maande later het die boodskap uit Nederland gekom dat die Here Sewentien die burgers gelyk gegee het en is Van der Stel en sekere van sy amptenare na Nederland teruggeroep. Die amptenare is ook beveel om hulle plase te verkoop. Dit was ʼn reuse oorwinning vir die burgers en hul regte. Dit blyk dat die Here Sewentien se houding geswaai was deur die groot aantal Franse setlaars wat die versoekskrif onderteken het, terwyl daar ʼn dreigende oorlog tussen Nederland en Frankryk aan die opbou was. Die VOC was bang dat die ontevrede Franse dalk ʼn revolusie in die Kaap kon begin. In 1956 het die skrywer, D.J. Opperman die gebeurtenisse in die vroeë agtiende eeu verwerk tot die drama Vergelegen. Daarin laat hy Van der Stel aan die einde sê: “Wat weet hul van die strewe na iets skoners? Ek verdoem die hele land en sy bewoners: twis sal ewig op julle Afrikaners lê as vloek; vergeefs sal julle rus tussen dié berge soek; mag julle afgemaai word deur die pokke […]”
ʼn Tipiese toneel in Tafelbaai
45 Hoofstuk 14 - Die Van der Merwes Willem Schalkszoon van der Merwe, kom in April 1661 in die Kaap aan. Hy het voorheen op die VOC skip Dordrecht diens gedoen. In die Kaap werk hy eers as dagloner vir die Kompanie. Hy is later in Julie 1716 oorlede. Willem word omtrent drie weke voor sy troue aangekla dat hy beeste van die inboorlinge koop. Hy word tot lyfstraf gevonnis. Die vonnis is later opgeskort en hy moes 'n boete van vyftig riksdaalders betaal. Dit was verbode vir enige vryburger om met die inboorlinge handel te drywe. Om die beeste by inboorlinge te ruil, was as ʼn bedreiging vir die boerderye onder beheer van die VOC beskou. Op 9 September 1668 trou Willem met Elsie Cloete die oudste kind van Jacob Cloete en sy vrou Fijtje Raderootjies (gebore Sophia Raedergortz). Die Cloetes was blykbaar baie prominente inwoners van die Kaap. Gedurende Januarie 1672 word van der Merwe se skaapwagter, Lucas Harmensen in die omgewing van Cleijne Zoutpanne naby Tygerberg deur 15 Khoi-Khoi genader om kwansuis sy skape en beeste wat weggedwaal het te gaan soek, in ruil vir tabak en rys. Lucas het dit van die hand gewys en word deur die Koi beroof. Al die vee word toe sommer ook gesteel. Die burgers het vyf van die diewe gevang en hulle vasgebind en na die Kasteel geneem vir vervolging. Daar word hulle gegesel en gebrandmerk en vir 'n kort tyd na Robbeneiland gestuur. Elsie se vader Jacob Cloete is later, in 1693 naby die Kasteel vermoor. Die Goewerneur beskrywe die voorval soos volg: "Deesen avon tusschen 8 a 9 uren is niet verre van casteel en bij't vleeschhuis vermoort, Jacob Cloeten, corporaal in dienst der E. Compagnie" Op 7 September 1692 ontvang Willem Schalk as erfdeel, die plaas Kunnenberg, of soos in die erfbrief beskryf as "de Kinnenborgh". Hierdie plaas, wat aan die Bergrivier gegrens het, se twee buurplase was Overveen, wat aan Jacobus van der Heiden behoort het en Bloemendal, wat aan Maarten van Staden behoort het. (Later het Maartin ook Overveen bekom) Maarten se oudste kind by sy eerste vrou Maria, was Marthinus genoem en was op 6 Junie 1675 te Werkhoven, Nederland gedoop. Hy moes dus elf of twaalf jaar oud gewees het toe hy in die Kaap aangekom het. Marthinus, was 17 jaar oud toe die nuwe Van der Merwe bure langs hulle ingetrek het. Een van die Van der Merwe dogters, Aletta (Aaltjie) wat op 23 April 1684 in die Kaap gedoop is, moes Marthinus se oog gevang het, want in 1701 is hy met Aletta van der Merwe, Willem Schalk se dogter getroud.
46 Hoofstuk 15 -Die eerste Marthinus en Claas Jansz van Rensburg In die monsterollen van 1700 word Marthinus, Maarten se seun, sonder ʼn vrou gelys. Hoewel die vrouens nie elke jaar gelys was nie, was dit wel in hierdie jaar gedoen. In die opgaafrollen (belastingopgawe) van 1702 word Marthinus gelys met vrou en dogter, woonagtig te distrik Kaap. In dieselfde jaar, 22 Januarie 1702, het hy en Aletta hul dogter Maria in die kerk in die Kaap gedoop. In 1705 toon die monsterollen steeds sy vrou en een dogter maar nou woon hulle in Drakenstein. Die plaas se naam blyk Vrymansfontein (Agter-Paarl) te wees. Marthinus het die plaas op 2 Julie 1705 vanaf Theunis de Bruin gekoop. Op 6 September 1707 teken Marthinus ʼn dokument waarop hy sy aanspraak op sy erfporsie afstaan, maar teen die einde van daardie jaar is hy oorlede, aangesien Aletta op die monsterollen van 31 Desember 1707 as weduwee aangegee word. Dit blyk dat Maarten en Catarina in hulle testament van 1705, bepaal het dat Marthinus in ʼn gelyke deel met sy stief broers en susters moes erf, omdat hy oor die jare soveel vir die familie beteken het. Dit wil voorkom of Marthinus nie hierdie siening gedeel het nie en vandaar die afstanddoening van sy erfporsie. Neem in gedagte dat daar by sy afsterwe in 1707 nog geen erfporsie ter sprake was nie, aangesien sy pa eers in 1716 oorlede is. Marthinus en Aletta het, behalwe die dogter Maria, nog ʼn tweede kind, ʼn seun, wat op 21 Junie 1706 gebore is, gehad. Sy naam is ook Marthinus genoem. Hy was maar skaars een jaar oud toe sy vader, Marthinus oorlede is. Marthinus (1), het net soos sy pa Maarten op ʼn klein plasie Vrymansfontein, (+- 50 Ha) in Drakenstein geboer wat die VOC aan die vryburgers gegee het. Dit was taamlike intensiewe boerdery wat op gewasse eerder as vee gekonsentreer het. (In 1709, twee jaar na Marthinus se dood het Claaz Jansz van Rensburg op die opgaafrol bekend gemaak dat hy 500 wingerdstokke op hierdie plaas, Vrymansfontein, het. Of hy dit so kort na Marthinus se dood self aangeplant het, is te betwyfel. Dit is heel moontlik Marthinus se nalatenskap gewees.) Die Europese agtergrond was nog sterk en daarom het die paar burgers in die Kaap op klein lappies aarde in die grote kontinent van Afrika geboer.
47 Plaas Vrymansfontein op die kaart
Aletta is na Marthinus se dood met Claaz Jansz van Rensburg getroud. Dit blyk dat hy die kinders help grootmaak het. Hulle het aanvanklik op Aletta se plaas, Vrymansfontein in die distrik van Drakenstein gewoon, maar Claaz het egter ʼn nuwe beskouing van boerdery gehad. Hy het van die VOC die tydelike weidingsregte van die plaas
48 Hottentotsfontein op 17 Oktober 1709, tussen Riebeeck’s kasteel en Paarde Berg, bekom. Hy wou in hierdie wye ongerepte land, met vee eerder as met wingerde op ʼn klein plasie boer. Hy was gereed vir die uitdagings van die ongetemde Afrika, want op die opgawe van 1708 dui hy aan dat hy drie gewere en een swaard besit. Huweliksregister, Claas Janse van Rensburg met Aaltjie Schalk (van der Merwe) van die Kaap op 14 Augustus 1708.
Op 9 Oktober 1711 verkoop Claaz Jansz van Rensburg die plaas Vrymansfontein aan Nicholas Prinsloo. Die gesin trek na die sogenaamde Land van Waveren. Claas het ook op 17 Desember 1711, ʼn leenplaas langs die Breede rivier bekom. Hy noem die plaas dan ook Rensburg. Die daaropvolgende eienaars noem dit Knollevallei. Dit is vandag die staatsplantasie Kleitjieskraal naby Wolseley. Klein Marthinus van Staden was maar skaars vyf jaar oud toe hy saam met sy ma en stiefpa die tog na die Land van Waveren onderneem het. Dit was egter die inlywing na ʼn era van trekboere wat nog geslagte sou duur. Dit was nie ʼn maklike tog om van Drakenstein na die Land van Waveren te reis nie. Die destydse pad oor die Bainskloofpas was nog nie geteer nie. Die eerste trekkers na die Land van Waveren moes hulle waens uitmekaar haal en stuk-stuk oor die Obiqua berge dra. Dan was daar ook nog aanvalle deur die Hottentotte op die trekkers uitgevoer om hulle besittings te roof. Die nagte op die roete was maar ʼn vreesaanjaende affêre wat deur een van die trekkers soos volg beskryf word: "in en omtrent Land van Waveren en de Berghrivier gelegen, zodanigh benauwen en bang maken, dat des nagts nauwelijks als met geweer in die hande derven slapen." Die burgers het gou vir hulle ʼn kommando stelsel op die been gebring om hulle self teen aanvalle te beskerm ook om gebuite vee terug te kry. Claas het dan ook as sersant in hierdie kommando gedien. Die familie hier was baie afgesonder van die ander burgers, maar dit het ook voordele ingehou. In Mei 1713 breek ʼn pokke epidemie in die Kaap uit wat duisende sterftes onder veral die Hottentotte veroorsaak het. Selfs Darkenstein was slegs met net 20 blankes gelaat wat nie siek geword het nie. Hierdie siekte het egter nie tot by die Land van Waveren versprei nie. Aletta van der Merwe het, behalwe die twee van Staden kinders, ook nog sewe Janse van Rensburg kinders gehad. Hulle name en geboortedatums is as volg:
49 1. Johannes, gedoop 7 Julie 1709 Stellenbosch, getroud 27 August 1730 met Anna Margaretha Botha. 2. Elsie, gedoop 31 Julie 1712 Stellenbosch, getroud 12 August 1731 met Pieter van der Merwe. 3. Cecilia, gedoop 21 April 1715 Drakenstein, getroud 19 April 1732 met Izaak van der Merwe. 4. Willem, gedoop 21 November 1717 Drakenstein, getroud 2 Julie 1740 met Anna Sophia Burger. 5. Nicolaas gedoop 31 March 1720 Drakenstein, getroud 31 March 1743 met Maria Marais. 6. Hendrik gedoop 12 September 1723 Drakenstein, getroud 1747 met Anna Maria van der Merwe. 7. Sophia gedoop 23 Desember 1725 Drakenstein, getroud 30 November 1745 met David van der Merwe. Claaz het voorsiening gemaak vir die onderwys van sy kinders deur van 29 Desember 1722 tot 29 Desember 1725 vir "adelborst" Pieter Paulus Tame van Den Hage aan te stel om die onderrig van sy kinders te behartig. In 1729, na Aletta se afsterwe en ʼn jaar na die dood van haar eggenoot Claaz, lewer haar boedel die volgende leningsplase en opstalle op: Rode Sant (Noord van Wellington) - gekoop deur Andries Gauche vir 304 Riksdaalders. Roodesant aan die Claas Voogts Rivier (naby Robertson) - gekoop deur Hendrik Willemz van der Merwe vir166.5 Riksdaalders. Zeekoeigat, geleë aan die groot Bergrivier - gekoop deur Jonas van der Poel vir133.3 Riksdaalders. Aletta ook bekend as Aaltjie, het ook perd gery aangesien daar 'n dames-saal in die inventaris was. In die afslaerslys koop mijn heer Sichert die saal vir 3.4 Riksdaalders. Die volgende ses slawe het ook deel van die Van Rensburg boedel uitgemaak: (a) Joseph van Mallabaar verkoop vir 208:1 Riksdaalders aan Jan Bastiaansz. (b) Coridon van Mallabaar verkoop vir 198 Riksdaalders aan Johannes Janse van Rensburg, (c) Antonij van Mallabaar verkoop vir 71:4 Riksdaalders aan Hans Jurgen Potgieter, (d) Arij van Bengalen verkoop vir 101 Riksdaalders aan Pieter Barendsz Blom, (e) Hans van de Kust Coromandel verkoop vir 52 Riksdaalders aan Gerrit van Aart. Die enigste slaaf wat nie van Asië nie, maar van Madagaskar afkomstig was. (f) Abraham (hy wat omtrent 16 of 17 jaar oud was), is volgens die testament aan hul seun Nicolaas toegewys, as gevolg van die gehegtheid was tussen die twee ontstaan het. Met die afsterwe van Aletta was Marthinus nog onder die ouderdom van 25 en steeds as minderjarig beskou. Dit is daarom dat hy bygestaan is deur die weesmeester met die ondertekening van die inventaris op 15 September 1729.
50
Volgens Marthinus se handtekening op die inventaris lyk dit asof hy sy naam Martynes gespel het.(middel regs) Die Frans Smit (of Smith) wie se handtekening met die bewerige “S” reg bokant die van Marthinus is, was die eggenoot van Maria van Staden, die ouer suster van Marthinus.
Maria van Staden en haar man Frans, het op ʼn plaas soos sy dit in haar testament beskryf, anderkant Vier en Twintigriviere, regoor Klein Elsenbosch geboer. Dit lyk asof hulle vooruitstrewende boere was, want in die testament laat sy nie net ʼn huis met buitegeboue na nie, maar ook ʼn wynkelder en ʼn smidswinkel. Sy noem agt slawe in haar testament, onder andere ʼn vrou genaamd Philiela, ʼn jeugdige met die naam Amerika en ʼn seun genaamd Cham. Sy het die geboue op die twee Roggeveld plase aan haar broerskind Isaac Schalk van der Merwe nagelaat. Die plase se name was Vogelfonteyn en Houd den Beck. Sy laat nog ʼn plaas, anderkant die Olifantsrivier, met die naam Langefonteyn na.
51 Hoofstuk 16 - Marthinus van Staden die trekboer
Die seun Marthinus was skaars 24 toe sy moeder oorlede is. Hy het egter baie groter planne gehad as om hom in die Land van Waveren te vestig. Hy het daarom die eerste werklike trekboer in die Van Staden geskiedenis geword. Kaart van Trekboer-roetes.
Hy het aanvanklik ʼn plaas Noro aan die Palmietrivier bekom. Die Palmietrivier is ʼn tipiese rivier in die Overberg distrik en mond by Kleinmond uit. Hy het dus nie noord getrek soos sy stiefpa Claaz nie, maar oos, oor die Hottentots-Hollandberge. Hy het ook ʼn plaas Doornekraal aan die Vette - rivier gehad. Dit is naby die hedendaagse Riversdale. Marthinus het verder en verder oos getrek. Marthinus het ook ʼn plaas Twee Kuylen in die Oos-Kaap net noord van die huidige Albertinia, aan sy halfbroer Johannes Jansz van Rensburg verkoop. Hy het hom ook hier vir ʼn tydperk gevestig. In 1744 het Marthinus die weidingsregte van die plaas Kabeljouws net ʼn paar kilometers oos van Jeffreysbaai verkry. Hy trek daarvandaan verder ooswaarts oor die Gamtoosrivier en vestig ook ‘n plaas langs ʼn volgende rivier. Hierdie rivier sou dan die naam van die Van Stadensrivier kry. Dit het vandag nog, meer as ʼn kwart millennium later, nog dieselde naam met bekende landmerke soos die Van Stadensriviersbrug en die Van Stadens-veldblomme-reservaat.
52 Van Stadensriviersbrug
Ingang tot Van Stadens-Veldblomme-reservaat
53
Marthinus moes ook soos sy stiefpa kommando diens doen. Hy word dan ook gedurende 1743 as Burger Lieutenant van die “Verre Gelegene Districten” aangestel. Dit is interessant om te sien hoe die kaart vergroot het. Vergelegen was nou nie meer soos in W.A. van der Stel se tyd by Somersetwes nie, maar naby die hedendaagse Port Elizabeth. ʼn Tipiese trekboer kamp.
Op 15 Augustus 1728 trou Marthinus met Catharina Botha in die Nederduitsch Gereformeerde Kerk te Drakenstein. Catharina is op 10 Julie 1714 gebore wat haar 14 jaar en 1 maand maak op haar huwelik met Marthinus. Dit is uit die Botha familie waar die bekende familienaam Jacobus Frederik vandaan kom, maar kom ons begin eers by Catharina se voorgeslag, die Snymans.
54 Hoofstuk 17 - Die Snymans en Bothas Catharina van Mallebaer (Catrijn) was ʼn Maleier vrou van Java wat in 1631 gebore is. Sy het na ʼn onderonsie met haar eggenoot, hom bygedam en met ʼn leer geslaan. Sy blaas het skynbaar van die hou gebars en hy is oorlede. Sy is daarna verhoor en tot die dood veroordeel. Die doodstraf is daardie tyd deur versmoring toegedien, vermoedelik met ʼn tou om die nek. Sy appelleer toe teen die vonnis op die gronde dat haar man haar mishandel het. Haar vonnis is toe versag na slawe-arbeid en sy is in 1657 na die Kaap gestuur. Hans Christoffel Snyman was ʼn matroos in die Hollands Oost Indiese Kompanjie. Tydens ʼn besoek aan die Kaap, knoop hy ʼn verhouding met Carharina aan en sy word swanger. Hy verlaat haar egter en keer terug na Nederland sonder om ooit weer kontak met haar te hê. Catharina skenk toe geboorte aan Christoffel Snyman. Volgens oorlewering het hy ʼn bestaan gemaak deur wingerde te snoei. Hierdie Chistoffel het die stamvader geword van al die Snymans in Suid-Afrika. Daar bestaan ʼn alternatief van hierdie geskiedenis wat ek tot op hede nie met die bron kon bevestig nie. Daar word vermeld dat Snyman een van die vanne is wat eg SuidAfrikaans is en nie in Europa voorkom nie. Die matroos was nie ʼn Hollander soos vermeld is nie, maar ʼn Duitser met die van Schneider. Nadat bekend geword het dat Catharina swanger geraak het, is die Schnieder aangekla dat hy Kompanjie eiendom misbruik het en is hy na Robben Eiland verban. Hy het egter ontsnap en is nooit weer gesien nie. Met die kind se geboorte is die vader se van verkeerdelik as Snyman opgeteken omdat die Hollanders nie Scneider kon spel nie. Catharina trou toe op 20 Desember 1671 met Anthony van Bengal, die eerste vry Maleier slaaf. Anthony was die eerste anderskleurige of nie-Europees, wat grond in die Kaap besit het. Hy neem Christoffel as sy kind aan en betaal dan ook vir sy opleiding. Christoffel Snyman moes ʼn besondere man gewees het, want in daardie tyd in die Kaap was daar baie meer blanke mans as vrouens gewees. Christoffel is van die enkele anderskleurige mans wat met ʼn wit vrou getroud is. Hy trou in 1690 met ʼn baie ryk vrou, Marguerite-Therese (Margaretha) de Savoye. Haar pa was Jacques de Savoye en ma, Christine Du Pont, een van die Franse-hugenote families, wat in 1688 in die Kaap aangekom het. Dit moet in ag geneem word dat die Hugenote as families na die Kaap gekom het. Die Hollanders en Duitsers het meestal, as onderdane van die Kompanjie, as matrose of soldate hier aangekom en nie in familie verband nie. Dit het die groot wanbalans tussen blanke mans en vrouens veroorsaak. Dit het dan ook vir die owerhede so ʼn groot probleem geskep, omdat gemengde huwelike nie aangemoedig was nie, dat ʼn skeepsvrag vol Nederlandse wees-meisies na die Kaap gestuur is om die probleem te probeer verlig. Uit hierdie huwelik tussen Christoffel en Marguerite is daar toe onder andere in 1697 ʼn dogter met die naam Elsie Snyman gebore.
55 Fredrich Botha, of Both soos dit in Duits bekend gestaan het, is op 4 Maart 1653 in Wangenheim naby Gotha in Duitsland gebore. Hy vertrek na die Kaap en trou in Stellenbosch, met Maria Kickers, ’n Nederlandse weesmeisie van Amsterdam. Hulle het saam agt kinders gehad. Hulle een seun was Jacobus Botha wat op 24 Augustus 1692 in die Kaap gedoop is. Elsie Snyman trou toe met Jacobus Botha op 22 Oktober 1713 in die NG kerk Stellenbosch. Hulle het onder andere ʼn dogter Catharina gehad wat na haar groot ouma aan moederskant vernoem is. Dit is hierdie jonge Catharina wat met Marthinus van Staden getroud is.
Marthinus en Catharina het die volgende kinders gehad: 1. 2. 3. 4. 5. 6. 7. 8. 9.
Aletta van Staden – gedoop 1 April 1731 Marthinus – gedoop 23 November 1732 Hans Jurgen van Staden – gedoop 1733 Elizabeth van Staden – gedoop 12 April 1737 (1735) Catharina Maria van Staden – gedoop 1737 Jacobus Frederik van Staden – gedoop 4 Desember1740 Johannes Willem van Staden – gedoop 1741 Anna Margaretha van Staden – gedoop 6 September 1744 Hendrik van Staden – gedoop 1746
Ek het ʼn vermoede dat Marthinus kort na die geboorte van hul seun Hendrik, oorlede is. Met sy afsterwe was Catharina maar slegs 32 of 33 jaar oud en reeds geboorte aan nege kindinders gegee. Catharina is toe weer op 28 Desember 1749 met Petrus Pienaar op Tulbach getroud. Hulle het nog vyf kinders saam gehad, voordat Catharina in 1781 in Swellendam oorlede is. Marthinus was 41 jaar oud met die geboorte van sy laaste kind. Met sy afsterwe kort daarna, sou dit beteken dat sy kinders grootliks weer sonder hulle vader moes groot word, soos dit ook met hom die geval was. Dit wil voorkom asof Marthinus ‘n baie wel-af boer gewees het. Op 3 Oktober 1746, word die testament van Marthinus deur die weesheer “getaxeert” en lewer dit onder andere die volgende op:
Opstal plaas Noro aan de Palmietrivier Opstal plaas de Doorne Kraal aan de Vetterivier 437 beesten groot en klijn 1943 schaapen groot en klijn 16 paarden groot en klijn 1 slave jonge gen:t Balie van Balijs 1 slave jonge gen:t November van Bengalen
56
1 slave jonge gen:t Coridon van de Caab 1 slave jonge gen:t Philip van Mallabaar 1 slave mijd gen:t Clara van Bengalen 1 slave mijd gen:t Calister van Bengalen kranksinnig, ongetaxeert
Daarna het ‘n lys gevolg van verskeie items soos huisraad, eetgerei en implimente asook ‘n Bybel, gewaardeerd teen 10 Riksdaalders. Vergelyk dit met ‘n bees wat omtrent 3 Riksdaalders werd was. Daar was ook 333 Riksdaalders in kontant. Die totale waarde van sy boedel was 3224 Riksdaalders gewees. In 1820 het ‘n Engelsman, JW Moodie (boek getiteld:Ten years in South Africa), wat met ‘n wa en osse van Kaapstad tot by Grahamstad getrek het, die volgende oor die Kaapse boere te sê gehad: A rich farmer at the Cape is only to be distinguished from his neighbours by the number of his servants and his cattle, and in the prosperous circumstances of his children. Where plenty is so generally diffused, and where extravagance is despised, there can be little difference in the mode of living. The money which in England would be squandered in empty show and spurious hospitality, the Cape farmer expends in establishing his children in the world without regard to seniority; for, as yet, they are totally unacquainted with what we call the rights of primogeniture, and cannot see any merit in one son coming into the world before another. The only luxury which distinguishes the rich farmer in this part of the colony is the possession of a horse-waggon, or a number of valuable horses. When they amass money by their industry, it is generally carefully hoarded up in a large chest, where it rarely sees the light, except on occasions of great need, and as a last resource. The Dutch are slow workers, sure gainers, and fast holders; -a character which is well adapted to the circumstances of this colony, where time, at least in its present state, can hardly be said to be money. Extravagance can never be a virtue; and it is only in a country whose institutions or the character of whose inhabitants have a tendency to produce an injurious accumulation of property in particular families, that this vice can be in any way beneficial to the community.
Catharina Pienaar se kinders is eers gebore in Drakenstein, toe Tulbach en die laaste een in Swellendam. Dit lyk asof Pienaar ook ʼn trekboer in hierdie streke was. Die van Staden kinders sou ook dan in hierdie omgewings grootgeword het.
57
Hoofstuk 18 – Jacobus Frederik (1) van Staden Marthinus en Catharina het soos reeds vermeld nege kinders gehad. Hul sesde kind, ʼn seun word Jacobus Frederik genoem. Waarskynlik so na sy oupa en groot oupa aan moederskant vernoem. Die Duitse Fredrich het net Frederik geword. Daar is egter bronne wat hierdie tweede Marthinus se name as Marthinus Jacobus aangee. Die meeste gee sy naam egter net as Marthinus aan. Dit is opmerklik dat Jacobus Frederik, wat eintlik Botha name was, as so ʼn prominente familienaam onder die van Stadens gevestig het. Die doopregister in die Kaapse gemeente dui aan dat Jacobus Frederik(1) op 4 Desember 1740 gedoop is – ( let op die spelling van Fredrik sonder die tweede “e”). Met sy vader so ‘n prominente trekboer, kan aangeneem word dat hy elders gebore is, maar in die Kaap gedoop is. Marthinus word ook soos Botha sonder die “h” gespel, maar Smit met ‘n “h”.
Frans Smith en Maria Smith (nee van Staden), Marthinus se tante, was die doopgetuies.
Jacobus Frederik (1) trou op 15 Maart 1761 met Isabella Elizabeth de Jager. Die huwelik word in Stellenbosch bevestig. Isabella was op 12 Junie 1745 in Drakenstein gedoop. Jacobus Frederik (1) was dus om en by 21 en Isabella Elizabeth 16 jaar oud ten tye van hulle troue. Hulle het saam 14 kinders gehad. 1. Marthinus van Staden, gedoop - 3 Apr. 1763 2. Catharina Maria van Staden, gedoop - 12 Aug. 1764 3. Elisabeth Magdalena van Staden, gedoop - 1767 4. Marthinus Jacobus van Staden, gedoop - 1768 5. Christiaan Philippus van Staden, gedoop - 29 Mar 1771 6. Jacobus Frederik van Staden, gedoop – 29 Mrt 1771 ~ 27 September 1772 7. Willem Hendrik van Staden, gedoop - 2 Okt. 1774 8. Johannes Jurgen van Staden, gedoop - 10 Apr. 1776 9. Petrus Johannes van Staden - 1777 10. Phillippus Theunis van Staden, gedoop - 20 Des 1778 11. Petrus van Staden, gedoop - 14 May 1780 12. Hermanus Johannes van Staden gedoop - 18 Nov. 1781
58 13. Jacoba Isabella van Staden, gedoop - 6 Nov. 1785 14. Aletta Frederica van Staden, gedoop – 1786 Jacobus Frederik (2) van Staden (nog steeds sonder tweede “e”) - Doopregister gemeente Kaap op 27 September 1772
Vader: Jacobus Frederik, Moeder: Isabella Elizabeth de Jager, Getuies: Gerhardus Jacob Meyer en Johannes Pienaar. Wat interessant is, is dat by van die jonger kinders, onder andere ‘n jonger broer, Willem Hendrik wat in die jaar 1774 gedoop is, word aan die einde van die doopinskrywing aangedui, “behoort onder het Land van Waveren”. Hierdie is die Kaapse gemeente se doopregister, so dit blyk of die gemeente in die Land van Waveren nog nie hul eie register gehad het nie.
By latere kinders soos Johannes Jurgens in 1776, word slegs genoem, Rodesand. Dit herinner aan die twee plase Rode Sant en Roodesant wat aan Aletta en Claas Janse van Rensburg, Jacobus Frederik se ouma en stief oupa behoort het, in die land van Waveren. Die gemeente in die land van Waveren was eers Rodesand genoem en het toe later die Tulbach gemeente geword het. Die familie mag in hierdie omgewing gewoon
59 het, maar kon ook elders in die Overberg distrik gewoon het, omdat hierdie gemeente aanvanklik die hele distrik buite die Kaap, Stellenbos en Drakenstein bedien het. Kaart van Kaap, Stellenbosch, Drakenstein en Land van Waveren
Let op Rodesandkloof by die Land van Waveren
60 Ek lees in ‘n boek van JJ Swiegers “Die Geskiedenis van die Langkloof tot 1795” die volgende stukkie geskiedenis van Jacobus Frederik (1). Dit word soos volg woordeliks aangehaal: Gedurende 1772 het Jacobus de Buys (broer van die bekende of berugte Coenraad de Buys) en Jacobus Frederik van Staden (gedoop 1740), laasgenoemde van die plaas Nooitgedacht in die Kannaland, in Kaapstad gaan kla oor die geweld wat hulle deur landdros J.F. Mentz van Swellendam aangedoen is. Hierop is hulle deur die destydse provisionele independent fiskaal, O.M. Bergh (1722-1785), in hegtenis geneem en 'n kriminele eis teen hulle ingestel. Aan die gesagvoerder aan die Kaap, het Mentz geskryf dat die twee genoemde koloniste hom op 16 Mei 1772 op verregaande wyse beledig het. Hy is gevloek en geskel en met "stooten en slaan" feitlik aangerand, terwyl De Buys hom ook met "een Kogel geladen geweest zijnde geweer" gedreig het. Op grond van Mentz se brief het die Politieke Raad Bergh as fiskaal versoek om die saak deeglik te ondersoek en die twee persone ten strengste te vervolg omdat 'n hoë premie op die rus en vrede in die distrik Swellendam geplaas is en die twee "gevaarlijke subjecten" so gou as moontlik vasgevat moes word. Dit het daartoe gelei dat hulle in die Kasteel in Kaapstad opgesluit is. Die twee Langklowers was van 30 Junie 1772 onder siviele arres en het eers op 12 November 1772 voor die Raad van Justisie verskyn. Hulle is van "verregaande moedwil, hoon en injurie, mitsgaders feijtelijke aanrandinge" op landdros Mentz aangekla. Jacobus de Buys is in hierdie aanklag by name uitgesonder. Albei die aangeklaagdes het onskuldig gepleit en drie maande tyd gevra om hulle verdediging voor te berei. Dit is aan hulle toegestaan, maar hulle sou onder arres bly. Op 11 Februarie 1773 het De Buys en Van Staden weer voor die Raad van Jusrisie verskyn. In 'n skriftelike verweer is gevra dat hulle toegelaat moes word om in die Kaap te gaan woon omdat hulle gesondheid in die Kasteel benadeel is. Hierdie toegewing is nie toegestaan nie en die saak is 'n verdere agt weke uitgestel. Omdat die Raad van Justisie duidelik vir Jacobus de Buys as die eintlike sondaar beskou het, het hulle in Desember 1773 besluit om Van Staden se versoek toe te staan mits die nodige borge gevind kon word. Op 20 Januarie 1774 was Jacobus de Buys al negentien maande onder arres en het hy weer probeer om 'n versoek tot die Raad te laat slaag. Hy het gemeld dat hy nie vir die lewensonderhoud van sy gesin kon sorg nie en dat sy gesondheid "door de bekrompentheid van zijn logis ten deesen Casteele merkelijk gekrenkt word" en hy het ook versoek om in die Kaap te gaan woon. Saam met sy versoek het hy skriftelike bewyse ingedien dat Johannes de Buys (sy vader), Hendrik van Staden (Jacobus Frederik se broer) en Jan Nel as borge sou optree. Sy versoek is weer eens geweier. Van Staden is wel op borgtog vrygelaat op voorwaarde dat hy in die Kaap sou bly tot tyd en wyl uitspraak in die betrokke saak gelewer is. Op 'n vergadering van die Raad van Justisie wat op 26 Augustus 1774 gehou is, het Jacobus de Buys weer ter sprake gekom. In daardie stadium was hy siek "so wei als sijne sig bij haaren man aldaar ophoudende huijsvrouw" . Sy vrou moes dus verlof gekry het om saam met hom in die Kasteel te bly, want tydens dieselfde vergadering is daar gevra dat die egpaar elders in die Kasteel gehuisves word. Hulle is daarna na 'n leë offisiershuis in die Kasteel oorgeplaas. Vir twee jaar en sewe maande is De Buys en Van Staden aangehou en daama sonder enige regsgeding vrygelaat. Toe hulle aan die begin van 1775 vrygelaat is, is daar op 2 Februarie aangeteken dat hulle elkeen rekognisie vir twee jaar en sewe maande vrygeskel is omdat hulle vir daardie tydperk in die Kasteel in siviele arres aangehou is en
61 in die tyd dus nie hulle plase kon bewoon nie. Hierdie toegewing kon egter nooit vergoed vir die gekrenkte eer, die ongerief, ontberinge en finansiele verliese wat dit vir die twee gesinne tot gevolg gehad het nie. In die Langkloof met soveel famiIiebande en gemeenskaplike belange het die hele episode die vervreemding van die owerhede versterk. Ek vermoed dat Jacobus Frederik (1) met sy reis na Kaapstad om die klag teen die landros te lê, in 1772, sommer ook van die geleentheid gebruik gemaak het om sy seun, ook Jacobus Frederik te laat doop. Hier het hy hom egter teen die owerhede vasgeloop en is aangekla soos ook met sy oupagrootjie, Maarten, met die Adam Tas debakel gebeur het. Dit is ook interessant om te sien dat Jacobus Frederik (1) se volgende kind, Willem Henderik op 2 Oktober 1774 gedoop is, terwyl hy in ‘n tipe huisares in die Kaap gewoon het. Dit moes die familie finansieël geweldig terug gesit het deurdat hulle feitlik vir drie jaar nie op hulle plaas kon kom nie. Die boerdery was sekerlik tot niet.
Die plaas Nooitgedacht in Kannaland (Klein Karoo) is aan die Olifantsrivier so omtrent halfpad tussen Oudshoorn en Calitzdorp geleë. Jacobus Frederik (1) het waarskynlik nog voor die doop van hul laaste kind (1786) afgesterwe wans sy boedel dateer 5 September 1785. Jacobus Frederik (1) was dus omtrent 45 jaar oud met sy afsterwe. In die invetaris van die boedel, soos opgestel deur skoonseun Willem J van Rensburg, word die volgende geskryf in die slotparagraaf: “Aan den weduwee Isabella van Staden geboorenen De Jager woonagtig aan die Pardebond.
62 Veelgeërde moeder, weij heft die brief ontvangen die moeder ons gesturd heeft en ik heeft die beesten getelt met getuijgen en daar is 56 beesten. En moeder dat is met ons onzen toestand dat moeder in het beset bleijffen wel wij zal moeder daar niet henderleijk en wesen en moeder als moeder gen vreemde krijgen kan dak sal ik ook borg wesen voor de onmondigen kienders zeijt duijzent maal gegroet van ons alle aan u alle diens wilge zoon en dogter Den 5 September: ano 1785” Op 26 September 1790 trou Isabella weer met Gabriël Stoltz. Op 29 Maart 1795, na Gabriël Stoltz se afsterwe, word in die Stoltz boedel die volgende vermelding gemaak: “Een opstal op de plaats de Klipfontein geleegen aan de Kaukoe aan de Oliphants Rivier” Dit is skynbaar die plaas waarop Isabella daarna, vermoedelik tot haar afsterwe gewoon het. Ek kon tot nou toe nog nie die ligging van hierdie plaas opspoor nie.
In die boedel van Gabriël Stoltz word die volgende inskrywing ten opsigte van sy weduwee gemaak: De weduwe Stols betuygd, ten tyde dat sy met Stols in huwelyk is getreeden, aan de kinderen by wylen haarer voorigen man Jacobus van Staden verwekt geen bewys te hebben gedaan vermits zy arm was en is t kinder bewys van Gabriel Stols by t aangaan van zyn huwelyk gepasseerd voor wylen den heer Ronnenkamp en nog in den boedel berustende, dog van t zelve uitgekeerd aan ......... Geeneen van die Van Staden kinders erf iets uit die Stolz boedel nie, omdat hul moeder arm was en nie iets tot die boedel bygedra het ten tye van haar huwelik met Stoltz nie. Ek vermoed dat haar armoede die direkte nagevolge was, van die tyd wat Jacobus Frederik in aanhouding gewees het.
63 Hoofstuk 19 – Die Bezuidenhouts
Soos reeds vermeld, word Jacobus Frederik (1) van Staden en Isabella Elizabeth de Jager se sesde kind, ook Jacobus Frederik (2) op 29 Maart 1771 gebore. Hierdie Jacobus Frederik (2) trou op 12 Mei 1793 met Sophia Aletta Bezuidenhout. Ons moet egter eers by die Bezuidenhouts stilstaan. Net ter inleiding ʼn stukkie geskiedenis: Gedurende 1780 het Brittanje oorlog verklaar teen sy vorige bondgenoot, Nederland. Nederland het 'n ooreenkoms met Frankryk aangegaan en 'n Franse garnisoen is tot 1784 na die Kaap gestuur. Die Franse revolusie van 1789 het egter nuwe kragte in Europa ontketen en die V.O.C. se beheer oor die Kaap het nou vinnig sy einde genader. In Januarie 1795 het Prins Willem van Oranje na Engeland gevlug en is die Bataafse Republiek in Nederland uitgeroep. Brittanje het die Kaap, met die steun van die verbande Prins van Oranje, in September 1795 verower. Dié eerste Britse besetting het 'n nuwe tydvak in die geskiedenis ingelui. Teen die einde van die 18e eeu het baie blankes in die kolonie hulself as Afrikaners begin beskou en nie meer met verwysing na hulle Europese herkoms nie. Die einde van die 18e eeu is gekenmerk deur toenemende onrus aan die oosgrens tussen koloniste en Xhosas wat ook dan gelei het tot die derde grensoorlog. Die grensboere in die Graaff-Reinet distrik het gevrees vir hul veiligheid en was ongelukkig met die manier waarop die regering die grensprobleem hanteer het. Die koloniste van Graaff-Reinet was verantwoordelik vir 'n paar kleiner rebellies vanaf 1795 tot 1799 waar hulle 'n nuwe Republiek uitgeroep het. Gedurende Maart 1799 het 'n regeringsmag onder Generaal Thomas Van de Leur die opstand finaal onderdruk. Die rebelle het oorgegee en 18 van hul leiers is na Kaapstad gestuur om verhoor te word. Adriaan van Jaarsveld en Marthinus Prinsloo is ter dood veroordeel, maar is later begenadig. Van die ander rebelle onder Coenraad De Buys het gevlug en skuilplek by die Xhosa hoofman, Ngqika gevind. De Buys sou later die voorvader van die de Buyse van die Noord-Transvaal word. Coenraad Frederik Bezuidenhout, die vader van Sophia Aletta wat met Jacobus Frederik (2) van Staden getroud was, was waarskynlik lid van dié groep rebelle wat tydelik gevlug het. Die Kaap is vroeg in 1803 weer aan die Bataafse bewind oorgedra. Die oorlog tussen Brittanje en Frankryk het Brittanje egter weer die strategiese nut van die Kaap laat insien en in 1806 het Brittanje die Kaap weer binnegeval en herower. Gedurende 1815 het Frederik Cornelis Bezuidenhout (Freek), die oom van Sophia Aletta Bezuidenhout, in die Baviaansrivier-vallei in die Oostelike Provinsie, op 'n plek wat tans bekend staan as Glen Lynden, geboer. Freek, wat toe 43 jaar oud was, se seun Gerrit het 'n entjie daarvandaan geboer.
64 Freek het soos baie van die ander burgers hulle nie as onderdane van die Britse regering in die Kaap beskou nie en was onwillig om die regerings opdragte te gehoorsaam. Hy word voor die hof gedaag op aanklag van wreedheid teenoor sy Khoi-Khoi bediende. Hy weier egter om voor die hof te verskyn. 'n Blanke offisier en 12 Pandoers (Khoi-Khoi soldate) is gestuur om Freek te arresteer. Hy het egter saam met sy seun en 'n vriend in 'n grot naby sy huis geskuil en op die soldate geskiet. In die skietery, op 10 Oktober 1815, is Freek doodgeskiet. Sy broer Johannes Jurgen Bezuidenhout het by sy graf wraak gesweer en 'n opstand van ongeveer 60 burgers georganiseer met die doel om die regering in Graaf-Reinet omver te werp. Na 'n reeks skermutselinge is die rebellie op 29 November 1815 by Slagtersnek onderdruk waar die rebelle gevra is om oor te gee. Johannes het egter geweier en is deur die Pandoers doodgeskiet. Nege en dertig van die rebelle is gevonnis en ses is ter dood veroordeel. Die teregstelling sou op 9 Maart 1816 plaasvind en 'n groot aantal mense is aangesê om die teregstelling by te woon. Vyf van die veroordeeldes is uiteindelik opgehang, maar vier van die galgtoue het gebreek. Volgens gewoonte in die tyd, is ter dood veroordeeldes vrygespreek wanneer galgtoue gebreek het, maar die vier is egter weer opgehang. Coenraad Frederik (2) (die jonger broer van Sophia Aletta) het 'n geringe aandeel in die rebellie gehad. Sy vonnis was dat hy die distrik moes verlaat en hy vestig hom vervolgens in die distrik Beaufort. ʼn Aantal familielede het hom toe na Beaufort gevolg. Hierdie rebellie, wat as die Slagtersnek rebellie bekend staan, word as een van die grootste katalisators van die groot trek beskou.
65
Hoofstuk 20 Jacobus Frederik (2) van Staden
Jacobus Frederik (2) en Sophia Aletta het sover bekend 5 kinders gehad. 1. 2. 3. 4. 5.
Jacobus Frederik (3) - gedoop 10.8.1794 Coenraad Frederik – gedoop 26.11.1797 Anna Wilhelmina – gebore 13.3.1799 Marthinus Jacobus – gebore 28.11.1801 Petrus Jacobus – gebore 17.12.1804
Ek vermoed dat Jacobus Frederik (2), die groot oupa van my, wat in 1771 gebore is, as “Kootjie Kromarm” bekend gestaan het. Die storie word vertel dat hy saam met ʼn groep gaan jag het. Dit moet onthou word dat hy meer as sestig jaar voor die groot trek gebore was. Dit is moeilik om ʼn presiese datum aan die storie te heg, maar dit moes in die jare met die draai van die agtiende eeu, toe hy nog ʼn jong man was, gebeur het. Die geselskap kom toe op ‘n leeu af. Hulle kwes toe die leeu, wat hulle dadelik bestorm. (Dit kon nog in die Kaap afgespeel het, want die laaste Kaapse leeu is in 1858 geskiet) Die ander hardloop weg, maar Jacobus Frederik (2) bly staan met die bedoeling om die leeu op kort afstand ʼn doodskoot te gee. Toe die leeu op hom is, trek hy die sneller, maar die ou pangeweer wou nie afgaan nie. Dit was ‘n algemene probleem van die ou gewere wat met ‘n vuurklip en kruitpannetjie gewerk het. Daar word beweer dat een uit tien skote nie afgegaan het nie. Die leeu bespring hom, maar hy kry die geweer dwars in die leeu se bek gedruk. Met die gestoei verloor hy egter die geweer en die leeu kry hom aan die arm beet. Die leeu was egter swaar gewond, word moeg en los hom toe en verdwyn die bosse in. Hy het die res van die geselskap weer gekry en gelukkig het hy die voorval oorleef. Sy arm was egter sleg verrinneweer en het so krom aangegroei dat hy dié bynaam gekry het. Daar word ook vertel dat hy later toe die arm genees het, die leeu weer gaan soek en doodgeskiet het.
66
Die detail van hierdie storie staan onder verdenking, maar die feit dat die nageslag geglo het dat sy noemnaam Kootjie Kromarm was en dat daar ook geglo is dat hy hierdie besering deur ʼn onderonsie met ʼn leeu opgedoen het, kan nie weggeredeneer word nie. Gedurende 1809 sterf Jacobus Frederik (2) egter op 37 jarige ouderdom. Sophia Aletta trou weer gedurende 1814 met Daniël Rudolph Jansen van Vuuren. Hy was die eerste voortrekker wat hom in die Marico distrik gaan vestig het. Hy het onder die naam Daniël van Vore bekend gestaan en sy plaas op Marico se naam was Wilgerboomspruit.
67 Hoofstuk 21 Jacobus Frederik (3) van Staden Jacobus Frederik (2) en Sophia Aletta se eerste kind, ook Jacobus Frederik (3) word op 10 Augustus 1794 te Graaff Reinet gedoop. Die gebruik was toe al gevestig dat die eerste seun na die oupa aan vaderskant vernoem word. Sy ouma, Isabella Elizabeth de Jager op daardie stadium met Gabiël Stoltz getroud, van die plaas Klipfontein, teken as doopgetuie in die register. Margaretha, wat op 27 Maart 1801 gedoop was, was die dogter van Pieter Bezuidenhout en Anna Catharina Nel. Jacobus Frederik (3) en Margaretha Elizabeth Bezuidenhout trou op 18 September 1816 te Graaf Reinet. Dit beteken Jacobus Frederik (3) was met hul troue om en by 22 en Margaretha Elizabeth was 15 jaar oud gewees. Die skoonma en skoondogter se nooiensvanne was albei Bezuidenhout. Hulle was verlangs familie met ʼn gemeenskaplike oupa onderskeidelik drie en vier geslagte terug. Hierdie Jacobus Frederik (3) en sy broer Marthinus Jacobus het volgens oorlewering saam met Retief die groot trek meegemaak, maar dit lyk egter twyfelagtig te wees. Meer hieroor later. Jacobus Frederik (3) se broer Marthinus Jacobus is op 28 November 1801 gebore en trou op 20 Junie 1824 met Magdalena Johanna Susanna Bezuidenhout. Magdalena Susanna was die suster van Margaretha Elizabeth Bezuidenhout. Die doopregister van die Nederduitse Gereformeerde-gemeente te Beaufort-wes, gee egter baie interessante inligting. Dit is die eerste inskrywing waar pa en seun Jacobus Frederik met die tweede “e” gespel word.
In die kantlyn van die doopreister word die volgende geskryf “ die naam van’t kind gebore die 14 Augustus 1819 aan Soetendals vally poort, gedoop die 27 ste Februarie 1820 te huis.” Asook: “Dese Bovenstaande 14 kinderen zyn gedoop in die maand Februarie 1820 met de huis besoeking”
68
By nog van die ander kinders verskyn die byskifte van die plaasverwysings in die kantlyn:
Let op van die interessante doopgetuies, die stiefoupa, Daniel Rudolf Janse van Vuuren en Aletta Sovija Besuijdenhoud. Die broer, Marthinus Jacobus van Staden se kinders was volgens die doopregister op die plaas Loerie Fontien gebore, maar in die kerk gedoop.
Teen die tyd dat Marthinus Jacobus van Staden gebore is, 14 April 1831, het die doopregister van formaat verander en is aantekening nie meer in die kantlyn gemaak nie.
69 Jacobus Fredeik (3) en sy broer Marthinus Jacobus kry twee leenplase van die Kaapse regering wat aangrensend aan mekaar is. Die plase heet Zoetendalsvallei of Zoetendalsvlei en Loeriefontein. Die oorspronlike Zoetrendalsvlei is ‘n bekende plaas tussen Bredasdorp en Struisbaai. Dit is vernoem na die skip die Zoetendal wat in 1673 by Struisbaai gestrand het. Hoe hierdie naam na die leenplaas by die Trakasrivier oorgedra is, is onbekend. In die joernaal van Hendrik Swellengrebel waain die landreis van 1776 beskryf word, word daar by Loeriefonteyn aangedoen, maar Zoetendalsvallei word nie genoem nie. In die joernaal van Joachim Baron van Plettenberg, van sy tog twee jaar later in 1778, word die volgende geskryf: Vrydag den 18de do. (September 1778) Vrydag den 18de do. met stil en zonneschijn weer, 's morgens ten seven uuren weder vertrokken: 's namiddags was de lugt eenigsints beneveld en de wind N.W., die 's avonds een wyle sterker wierd, maar omtrent de nagt weder afnam. Wy bereykten tegens den avond [p. 70] ten vijf uuren ons legerplaats aan de Traka of Vrouwenrivier, by een verlatene plaats van Pieter Erasmus. Onder weeg wierd een troep van 40 struysvogels en eenige elanden gezien: met het jagen op de struysvogels, van welke een geschoten wierd, raakten drie paarden van d'escorte op de loop, dewelke ter vergeefs wierden nagezet door twee dier manschappen, dewelke eerst 's avonds een quart na agt uuren op het afsteeken van eenige vuur pylen aan ons leger quamen. Zaturdag den 19de do. Zaturdag den 19de do. was de lugt betrokken en 't begon met een koude weste wind 's voormiddags wat te regenen. Wy hadden ons ten half seven uuren op weg begeeven en moesten om het water niet te missen ¼ na thien uuren weder aan dezelve rivier de Traka legeren; hebbende de plaats van Rudolf Opperman ter regterhand van ons dog buyten 't gezigt. Sondag den 20st do. Sondag den 20st do. betrockene lugt en weste wind, dog 's namiddags zonneschijn, verlieten wy de Traka 's morgens ten half seven uuren passeerden ten negen uuren de Kauka of Buffelsrivier en namen ten half elf uuren 's voormiddags ons leger aan de Loerie-fonteyn ter plaatse daar dezelve over zeer grote klipbanken haren loop heeft. Wy hadden hier ter regter zyde van ons de Zoetendaalsvalleys poort, by welke de Swarte bergen haren naam van Swarte bergen verliesen, en van waar aan dezelve verder voortschietende, andere willekeurige benamingen gegeeven werden, tot omtrent aan het einde, daar dezelve weder de naam van Swarte bergen bekomen. 's Avonds bragt een afgezonden Basterthottentot, twee van de absent geraakte paarden terug. Dit is dus duidelik dat die naam Zoetendaalsvalleys-poort toe al reeds gevestig was, maar waar is die plase vandag?
70 Zoetendalvlei is vandag so omtrent halfpad tussen Willowmore en Klaarstoom geleë.
Dit is egter opgedeel in verskeie plase soos Soetendalspoort en ander gedeeltes van Soetendalsvlei. Loeriefontein bestaan ook slegs in naam van die spruit asook gedeeltes van Kleinloeriefontein. Die koördinate van Soetendalspoort is -33.273722, 23.073863 Dit is vandag ‘n tipiese Karoo plaas waar met sy-haarbokke en skape geboer word.
71
Manie en Stephanie Karsten is vandag die eienaars van die gedeelte wat Soetendalspoort genoem word.
72
Soetendalvlei met die poort in die agtergrond
73 Hoofstuk 22 Die Voortrekker geslag
Jacobus Frederik (3) en Margaretha Elizabeth het die volgende kinders gehad: 1. Jacobus Frederik, gebore 14.8.1819 (waarskynlik jonk oorlede en daarom is die naam herhaal) 2. Aletta Sophia, gebore 1820 3. Anna Catharina van Staden 15 Aug. 1821 4. Pieter Johannes, gedoop 8.11.1825 5. Marthinus Jacobus, gedoop Beaufort Kaap 14.4.1831 6. Margaretha Elizabeth, gebore 1831 7. Maria Jacoba, gebore Kaap 28.6.1833 8. Jacobus Frederik, gebore Kaap 10.12.1835 9. Cornelia Jacoba, gebore Potcheftroom 3.1.1841 ~ Hervormde Kerk Potchefstroom 27.3.1842
Laaste kind in Beaufort-wes register
Op 27 Maart1842 word Jacobus Frederik (3) en Margaretha Elizabeth Bezuidenhout se laaste dogter, Cornelia Jacoba (gebore 3 Januarie 1841), gedoop in die Nederduitse Hervormdekerk Potchefstroom. Die egpaar teken ook as doopsgetuies by die doop van die eerste kind van hul oudste dogter, Aletta Sophia. Dit is dus ‘n aanduiding waarlangs hulle tydens die Groottrek getrek het. Volgens die register van Voortrekkerstammoeders van J C Visagie word M E van Staden gelys as trekker en vrou van J F van Staden. Daar word egter nie vermeld watter trekleier se trek hulle meegemaak het nie. Die feit dat hulle in Potchefstroom aangeland het maak dit heel onwaarskynlik dat hulle saam met Retief getrek het wat Natal toe gegaan het.
74 Voortrekker Trekroetes
Voortrekker Roetes
Dit is belangrik om te weet dat Pretoria nie ‘n aanvanklike bestemming van enige trekkers was nie, omdat Pretoria eers in 1855, amper twintig jaar na die Groottrek gestig was. In die volgende leidraad, in die soeke na die familiegeskiedenis, vind ons dat ‘n aantal kinders van Jacobus Frederik en Margaretha Elizabeth op die plaas Klipfontein geland het. Hoe hulle daar gekom het en wat tussen Potchefstroom en Klipfontein gebeur het is nog ‘n raaisel. Dit is egter belangrik om ‘n wyle by Klipfontein stil te staan.
75 Hoofstuk 23 Klipfontein Klipfontein is ‘n baie ou plaas wat Noord-wes van Pretotia geleë is. Dit is vandag grootliks ingesluk deur Rosslyn aan die een kant en Soshanguwe aan die ander kant. Sovêr ek kon vasstel is daar vier van Jacobus Frederik (3) en Margaretha Elizabeth se kinders, gades van hierdie vier kinders, of kinders en kleinkinders van hierdie vier kinders op die plaas begrawe. Ek maak daarom die afleiding dat dit ‘n familieplaas van Jacobus Frederik (3) was, omdat dit hoog onwaarskynlik is dat kinders saam op een plaas sou vestig, as dit nie hulle pa se plaas was nie. Daar is ‘n baie goeie kans dat Jacobus Frederik (3) en Margaretha Elizabeth dan ook op die plaas begrawe is, maar dit kon tot nog toe nog nie bevestig word nie. Dit is ook interessant om te weet dat Jacobus Frederik (3) se ouma Isabella Elizabeth de Jager, saam met sy stiefoupa Gabriël Stoltz, in die Kaap op die plaas Klipfontein gewoon het. Mens wonder nou of hierdie plaasnaam nie tot die plaasnaam van die Pretoria plaas aanleiding gegee het nie. Die eerste verwysing na Klipfontein wat opgespoor kon word, is dat Adriana Albertina Prinsloo in 1855 daar begrawe is. Dit is dieselfe jaar waarin Pretoria gestig is. Die begrafplaas op Klipfontein is tans baie verwaarloos en binne ‘n klipgooi van die eerste huise van Sushanguwe af. Koördinate -25.598985, 28.062261 Daar is talle ongemerkte grafte en dan ‘n aantal grafte met leiklip grafstene wat meestal vergaan het. Dan is daar graniet grafstene wat steeds bestaan, wat duidelik aan kleinkinders en agterkleinkinders van Jacobus Frederik (3) behoort. Daar was volgens die rekords van die Britte, wat die vroue en kinders met die verskroeide aarde beleid, tydens die Ango-Boereoorlog, van die plase verwyder het, drie huise teenwoordig op die plaas Klipfontein. Daar is egter slegs enkele mure wat vandag steeds staan. Kaart van Klipfontein Noord-wes van Pretoria
76
Grafte van kleinkinders van Jacobus Frederik (3) te Klipfontein
77
Ongemerkte Grafte - Klipfontein
78 Hoofstuk 24 - Marthinus Jacobus (1) my oupagrootjie
Jacobus Frederik (3) se derde seun, Marthinus Jacobus is op 14 April 1831 op Zoetendalsvalei in die Kaap gebore. Hy was dus nog maar ‘n baie klein seuntjie toe hy saam met sy ouers aan die Groottrek deelgeneem het. Soos reeds vermeld is hulle eers na Potchefstroom, maar het toe op die plaas Klipfontein aangeland. Marthinus trou met Adriana Albertina Prinsloo wat op 22 April 1835 op Uitenhage gebore is. Sy was die dogter van Joachim Prinsloo en Catharina van Rooyen. Soos die gebruik, word hul eerste kind, ʼn seun, Jacobus Frederik (4) na sy oupa aan vaderskant vernoem. Hierdie seun is op 4 Augustus 1854 gebore en is my oupagrootjie. Hy was maar pas ʼn jaar oud toe sy ma op 22 September 1855 oorlede is. Sy was skaars twintig jaar oud en is moontlik met die geboorte van hul tweede kind, ʼn dogter met die name Susanna Elizabeth oorlede. Soos reeds vermeld is Adrina Albertina Prinsloo dan die eerste familielid wat ek kon opspoor wat op Klipfontein begrawe is. Marthinus Jacobus trou weer met Wilhelmina Christina Pretorius. Hulle het saam toe weer twee seuns en drie dogters gehad. Die kinders van Marthinus Jacobus was soos volg: 1. 2. 3. 4. 5. 6. 7.
Jacobus Frederik 4 Augustus 1854 Susanna Elizabeth 1855 Petrus Johannes, gebore 23 Junie 1880 Wilhelmina Christina 26 November 1883 Anna Catharina Maria 13 Maart 1885 Willem Wouter 31 Mei 1887 Jacomina Hendrina Frederika 8 Oktober 1889
Dit wil voorkom asof Marthinus sy hele volwasse lewe op die plaas Klipfontein gewoon het, want hy is op 68 jarige ouderdom, op 15 Desember 1898, kort voor die uitbreek van die Anglo-Boereoorlog, oorlede. Hy is dan ook op Klipfontein Pretoria, begrawe, in vermoedelik een van die ongemerkte grafte wat vandag sigbaar is. Ek kon ʼn huweliksbevestiging van Marthinus Jacobus van Staden opspoor, wie met Wilhelmina Acristina Pretorius, op die 25ste Februarie 1865 in die Hervormdekerk Pretoria in die huwelik getree het. Die datums lyk asof dit kan ooreenstem, maar die naam, Acristina en nie bloot Christina nie, is die enigste detail wat pla. Willemina Achristina is op 12 Julie 1843 gebore en op 6 Mei 1844 in Winburg gedoop. Hierdie inligting het egter nog verdere navorsing nodig. Die huwelikssertifikaat kan moontlik nog, volgens die argivaris van die Hervormdekerk, in die kerkargief in Stellenbosch teenwoordig wees, maar dit moet nog ondersoek word.
79 Hoofstuk 25 - Jacobus Frederik (4) my oupagrootjie.
80
Van Jacobus Frederik (4) se kinderdae is min bekend. Hy is volgens oorlewering in die Kaapkolonie gebore. Dit blyk egter onwaarskynlik te wees en is heel waarskynlik op Klipfontein gebore, waar sy ma ‘n jaar later afgesterf het. Hy trou met Cecilia Jacoba Herman, dogter van Matthys Johannes Herman en Catharina Helena Klopper. Cecilia is op 22 November 1859 gebore. Matthys Johannes Herman was die eienaar van die plaas Daspoort, een van die plase waarop Pretoria aangelê is. Die voorstede Daspoort, met die bekende Daspoort-tonnel en Hermanstad is deel van die geskiedkundige nalatingskap van hierdie familie. Die plaashuis was die eerste huis in Pretoria wat wes van die Apiesrivier gebou is en was op die perseel waar PPC vandag geleë is. Volgens die huweliksregister is Jacobus Frederik en Cecilia Jacoba voor landdros W Skinner in Pretoria op 22 Mei 1875 getroud. Daar word vermeld dat Jacobus Frederik 20 jaar oud is, ʼn veeboer en woonagtig in die distrik Heidelberg is. Matthys Johannes Herman was op 21 April 1830 gebore en is op 16 Mei 1830 op Graaf Reinet gedoop. Wat egter interessant is, is dat hy die seun was van James Herman wat in 1801 in Buckinghamshire, Engeland gebore is. James is op 28 November 1834 met Cecilia Jacoba Greef getroud. Sy was in 11 Junie 1809 in Cradock gebore. James was dus een van die 1820 Settelaars wat van Engeland afkomstig was en toe met ʼn Afrikaanse vrou getroud is. Dit is vir my teleurstellend om kennis te neem dat daar dus wel volksvreemde bloed in my bloedlyn is. Ek weet nie of die datums heeltemal korrek is nie. As James en Cecilia in 1834 getroud is en hulle seun reeds in 1830 gebore is, lyk dit asof hy sy Britse maniere hier in SuidAfrika kom uithaal het. Uit alternatiewe navorsing blyk dit of die troudatum eerder 3 Desember 1824 kon gewees het. Jacobus Frederik (4) en Cecilia het drie kinders gehad, Marthinus Jacobus wat op 8 Mei 1876 gebore is en Matthys Johannes wat op 27 April 1883 te distrik Pretoria gebore is. Hul enigste dogter, Adriana Albertina Prinsloo van Staden was doofstom en is Nonnie genoem. Sy is op 19 Junie 1891 gebore. Daar word vertel dat Jacobus Frederik (4) en sy familie aangeval was toe Nonnie nog sommer ʼn pasgebore baba was. Hulle vlug toe voor die aanvallers wat hulle wou vermoor en Jacobus Frederik skuil met sy vrou en drie klein kindertjies agter ʼn waterval. Hulle het daarna agtergekom dat Nonnie doof is. Daar word toe afgelei dat haar gehoorgebrek met die swem onder deur die waterval te doen gehad het. Nonnie is op 6 Junie 1911 ook met ʼn doofstom man, Petrus Hendrik Lindeque (Oom Piet) getroud. Hy het as tuinier (lees hovenier) by die Uniegeboue gewerk. Hulle het mekaar by die skool vir dowes, "Het Doofstommen en Blinden Instituut –Worcester” ontmoet. Hulle het saam ses kinders gehad waarvan nie een gehoorgestremd was nie.
81
Die name van hul kinders is: 1. 2. 3. 4. 5. 6.
Susanna Johanna Lindeque: gebore 18 November 1919 Gert Johannes Lindeque Jacobus Lindeque Cecilia Lindeque Adriana Albertina Lindeque: gebore 3 Februarie 1921 Petrus Hendrik Lindeque
Cecilia Jacoba doen malaria op en sterf op 34 jarige ouderdom op 10 Maart 1894. Sy word te Idalia (spoorhalte) op die plaas van Phillip Beukes naby Piet Retief begrawe. Jacobus Frederik trou toe weer met Gertruida Adriana Venter. Hul enigste kind, Adriana Gerieta was op 15 April 1896 gebore. Rugkant van die foto van Jacobus Frederik van Staden
Die foto dra, wat na ʼn handtekening van AG van Staden, jongste dogter van JF van Staden lyk. Verder ook onder andere die woorde: ”AG van Staden to AAP van Staden”. Dit lyk dus of die jongste dogter Adriana Gerieta die foto gestuur het aan haar stiefsuster AAP van Staden of Nonnie soos sy bekend gestaan het. Dit is interessant dat die beskrywing in Engels gedoen is. Dit sou seker kort na die oorlog gedoen gewees het toe Engels die enigste amptelike taal was.
82
Hoofstuk 26 - Swazi Polisie.
Jacobus Frederik (4) word deur President Paul Kruger na Swaziland gestuur as hoof van die Swazi-polisie. Die ontplooiing van die Swazi-polisie was op versoek van die Swazi koning om hulle teen aanvalle van die Zoeloes te beskerm. Jacobus Frederik moes homself toe in die destydse hoofstad van Swaziland, Bremersdorp (later Manzini) vestig om sy rol as polisiehoof uit te voer. Jacobus Frederik en Paul Kruger was blykbaar swaers, maar hoe die presiese verwantskap in mekaar steek kon nog nie vasgestel word nie. Volgens oorlewering was Jacobus Frederik (4) se tweede vrou, ʼn suster van President Kruger se vrou, Gezina gewees. Gezina se nooiensvan was egter Du Plessis en Gertruida Adriana s’n was Venter. Verdere navorsing moet dus nog gedoen word. Vieringe van President Kruger se verjaarsdag – Bremersdorp Klubhuis
Die volgende in ʼn lys van ampsdraers in Swaziland wat in die destydse hoofstad, Bremersdorp gestasioneer was: 1. Britse Konsul — Johannes Smuts. 2. Britse hoë-kommesaris — J. C. Krogh. 3. Landdros van die hoër-hof — A. P. N. du Toit. 4. Landdros — De Bruyn Tengbergen. 5. Balju — P. Manning. 6. Registrateur van die hoër-hof — F. S. Steyn.
83 Vrederegters — N. Vermaak, V van Emmett, F. Schoeman, J.J. Ferreira en G Ferreira. 8. Regeringsdokter — A. Maclachlan, M.B. 9. Hoof van die polisiemag — Kommandant J.F. Van Staden. 10. Posmeester en Telegrafis — C. Engel. 7.
Die spanning was aan die opbou tussen die Boererepublieke en Engeland en dit was ook in Swaziland merkbaar. In ʼn boek oor die Anglo-Boereoorlog, The Kingdom of Swaziland, haal D. Hugh die volgende aan wat Johannes Smuts op 13 September 1895 in ʼn geskrif aan Brittanje gestuur het : The presence of so many Boer police after the transfer may, as already noted, have been a restraining influence. But if, as Smuts suggested, their commandant, van Staden, was an illiterate who ‘‘has no knowledge of drill or discipline,’’ (CO879/44/499, no. 74, enc.; Sept. 13, 1895) not much confidence could be placed in the rank and file. With no recreational outlet except the canteens, a few no doubt became part of the problem in main-taining law and order. There was, however, another aspect to the presence of the police. They came originally to prevent a possible rebellion and were thus armed and equipped, a troubling feature for Swazis. Nuwe rekrute Swazi Polisie 1897
84 Ek kan nie glo dat Johannes Smuts objektief was toe hy die stelling gemaak het oor die geletterdheid van Jacobus Frederik (4) nie en neem aan dat dit gesien moet word in die lig van die propaganda en verdagmakery wat die oorlog vooruit geloop het. Die foto waar koning Ngwane V, ook bekend as Bhunu tot Swazi-koning gekroon is, is in die van Staden familie besit. Dit is onseker of Jacobus Frederik een van die drie blankes was wat op die foto verskyn het, of wat sy betrokkenheid by die geleentheid was.
85
Skets van Bremersdorp
Jacobus Frederik (4) het egter nie die oorlog gesien nie, al was sy kommando, wat as die Swaziland Polisie of Swaziland Kommando bekend gestaan het, aktief in die oorlog betrokke. Hy is op 43 jarige ouderdom, blykbaar aan sy hart, op 1 November 1897 te Bremersdorp oorlede. Hy is dus ʼn jaar voor sy eie vader oorlede. Hy word dan ook op Bremersdorp begrawe. Ek het nie sy graf probeer opspoor nie, maar die volgende berig gevind wat in ʼn Swazilandse koerant verskyn het:
A cardboard sleeping pallet of a homeless person beside a 19th century grave at Manzini's Pioneer Cemetery 28 November 2012
ʼn Ander berig lui dat mense aangeval en beroof is tydens hulle besoek aan die begraafplaas. Dit blyk dat misdaad ook hier sy tol geëis het en ek kan net hoop dat die graf steeds identifiseerbaar is.
86
Gertruida Adriana is later weer met ʼn man met die van van Steyn getroud. Dit is interessant om te weet dat haar dogter, Adriana Gerieta toe met die seun van hierdie man getroud is. Die pa en seun sterf toe in 1918 as gevolg van die griep epidemie. Later is Adriana Gerita weer met ʼn man met die van Venter getroud. Sy het in totaal drie kinders gehad.
1. Frieda Steyn 2. Joey Steyn 3. Pierre Venter Adriana is later in 1949 op 52 jarige ouderdom op Dewetsdorp oorlede.
87
Hoofstuk 24 – Marthinus Jacobus van Staden (2)
Marthinus Jacobus (2) en sy gesin Op die rugkant van hierdie foto is geskrywe, “Aan je broeder en suster Marthinus van Staden, Middelburg Transvaal, van Piet Lineque. (Let op die Lindeque spelling) Marthinus Jacobus, oudste seun van Jacobus Frederik (4), trou met Ellis Maria Sophia Joubert soos op die foto te sien is. Hulle het die volgende kinders gehad: 1. Jacobus Frederik gebore 18 Desember 1904 en sterf Junie 1990. (86) 2. Dogter – naam onbekend maar noemnaam was Bybie 3. Cecilia Jacoba – sterf vroeg aan breinvliesontsteking.
88 4. Johanna Stoffelina Joubert - gebore 15 Februarie 1910 en sterf op 12 Januarie 2001 (91) 5. Petrus Christoffel Retief 6. Marthinus Jacobus gebore 1 April 1913 en sterf in vliegongeluk op 16 Julie 1958 Marthinus Jacobus (2) het in Middelburg distrik gewoon, maar het later in Pretoria in ‘n huis wat vandag bekend staan as Hazelwoodstraat gewoon. Hy sterf op 11 Julie 1949 op 73 jarige ouderdom en word in Pretoria begrawe. Rebekkastraat begraafplaas – Graf nommer (Afr) D 16589
89
Hoofstuk 25 - Matthys Johannes van Staden Matthys Johannes van Staden, my oupa, was Jacobus Frederik (4) se tweede seun. Hy is op 27 April 1883 in die Pretoria distrik gebore. Hy is in die Gereformeerde kerk in Kerkstraat, Pretoria, gedoop. Dit was ook die aanbiddingsplek van President Kruger gewees.
Hierdie afskrif van die doopseël het Matthys gedurende 1949 vanaf die Gereformeerde Kerk verkry. Soos reeds vermeld was die van Stadens en Krugers familie en daarom was hulle ook huisvriende. Die volgende staaltjie word van my oupa vertel toe hy so vier of vyf jaar oud was. Die families het met geleentheid by mekaar in die Kruger-woning in Pretoria gekuier. Klein Thysie het gereeld op president Kruger se skoot gesit. President Kruger, of oom Paul soos hy bekend gestaan het, het my oupa dié dag konstant geterg deur iets te doen soos sy oor te knyp of sy hare te trek. Op ʼn stadium vererg die jong Thysie hom vir oom Paul en gryp ʼn karwats van die sweepstaander af en slaan oom Paul deur die gesig dat daar ʼn eintlik ʼn rooi haal lê. Sy pa gryp hom toe om hom ʼn pakslae te gee, maar oom Paul keer en sê dat hy dit verdien het omdat hy al heel dag lank met die seun moeilikheid gesoek het.
90 Matthys Johannes het gedurende sy lewe as Thys, Thysie of Oom Thysie bekend gestaan. Ek het egter gekies om konsekwent sy doopnaam Matthys te gebruik. Matthys se moeder is oorlede toe hy 10 jaar oud was. Op 14 jarige ouderdom is sy vader oorlede. Sy stiefmoeder, het die twee seuns maar veral die doofstom Nonnie en klein Alida wat maar pas ʼn jaar oud was toe haar vader oorlede is, versorg so goed sy kon gedurende die oorlogsjare. Daar was ook voor die oorlog ʼn teenwoordigheid van Britse berede soldate in Swaziland wat as die Steinaecker’s Horse bekend gestaan het. Dit het dan ook gebeur dat daar ʼn soort van sport met die soldate gereël was, om as ontspanning of vermaak te dien. So is daar toe ʼn kompetisie gehou waar ruiters op ʼn bed in ʼn tent moes lê, en dan op bevel moes opspring, in volle uniform moes verkleë, hul perd vang en opsaal en dan ʼn ent tot die eindstreep moes jaag. Eerste daar was natuurlik die wenner. In die kompetisie het Matthys toe eerste gekom. Die Britse soldaat wat tweede gekom het, betwis die uitslag, omdat hy beweer het dat Matthys nie al die reëls nagekom het nie. Daar word toe inspeksie uitgevoer en bevind dat Matthys se onderste knoop van sy onderbaadjie nie vasgemaak was nie. Hy protesteer en sê die knoop was vas en moes met die perdry losgegaan het. Die beoordelaars besluit toe om verder inspeksie toe te pas en bevind toe dat die Britse soldaat sy perd opgesaal het sonder om eers ʼn saalkleedjie op die perd se rug te sit. So word daar toe besluit dat Matthys wel die wenner is. Hy verwerf toe ʼn silwer beker as wenner van die kompetisie. Die storie het ʼn ongelukkige einde, want die prokureur op Bremersdorp wat ʼn goeie vriend van Matthys se oorlede pa, Jacobus Frederik was, bied toe aan om die beker in sy kantoor uit te stal. Nie lank daarna nie breek die oorlog uit en die prokureur verhuis en die beker het toe so verlore gegaan. Volgens die argief was die twee prokureurs firmas op Bremersdorp, Lovemore & Berning asook, Dr Kniphorst. Ek vermoed dat dit die laasgenoemde prokureur is, omdat daar toe reeds ʼn antagonisme teenoor Engelssprekendes bestaan het.
91
Die eerste verjaarsdag (genoem eersteling) van die Afrikaanse skool op Bremersdorp
Matthys het slegs standerd vier op skool behaal en het gereeld van ʼn onderwyser met die van Fisher gepraat, wat vir hom klas gegee het. Dit kon egter nie bevestig word dat hy wel die skool op Bremersdorp bygewoon het nie. Latere jare, toe my pa, Matthys se oudste seun, Jacobus Frederik van Staden, reeds in die laat standerds van die hoërskool was, het Matthys hom gereeld Maandag oggende op pad skool toe gevra “ken jy jou les?” Sy kennis van sekondêre skool onderrig was dus taamlik beperk. Tog was hy bekend daarvoor dat hy bedrae in ponde, sjielings en pennies maklik met hoofrekene kon bymekaar tel en die kleingeld kon bereken. Hoewel Matthys grootliks ongeskoold was, het hy tog baie noukeurig van al sy boerdery aktiwiteite rekord gehou. Die insetsel hieronder is ʼn uittreksel uit sy boerderyjoernaal van die plaas Witkop op Piet Retief van 1940. As ek so na sy handskrif kyk kon hy selfs medies gaan studeer het.
92
Matthys was ʼn eenvoudige man wat naby die grond geleef het. Hy was lief vir die veld en vir boerdery. Hy het altyd vrugtebome geplant waar hy gekom het. Hy het altyd gesê die eerste boom wat ʼn mens moet plant is ʼn vyeboom is, omdat ʼn vy voor enige ander vrugteboom vrugte dra. Hy het ook geglo Piet Retief omgewing is een van die lekkerste plekke om te bly. Nie so koud soos Ermelo nie, maar ook nie so drukkend warm soos Pongola nie.
93 Hoofstuk 26 – Die slag van Colenso Met die uitbreek van die Anglo-boereoorlog in Oktober 1899 was Matthys maar 16 jaar oud. Matthys besluit dat hy aan die oorlog sou gaan deelneem en probeer om by die Swazilandse polisie aan te sluit. Sersant JD Opperman, wat as polisiehoof waargeneem het, wou egter nie sulke jong seuns aanvaar nie en vertrek sonder Matthys met die nuut gestigte Swaziland kommando na die front. Ek vermoed sy ouer broer, Marthinus Jacobus het wel deel van die Swaziland kommando uitgemaak. Matthys en een of twee ander seuns van sy ouderdom het hulle egter nie so gou laat afskrik nie. Hulle gaan na die plaaslike winkel, wat aan ʼn Jood behoort het en eis onder die krygswet al die proviand en ander benodigdhede wat hulle sou nodig hê om na die front te vertrek. Die Jood weier eers, maar nadat hulle dreig om dit met geweld af te vat, stem hy in en stel ʼn lys op van alles waarop hulle beslag gelê het en laat hulle daarvoor teken. Sodoende kon hy dit weer van die ZAR regering verhaal. Wallenstein en Bremer was die hoof handelaars in die hoofstad - Bremersdorp
So kom die seuns toe op Colenso aan om aan die geveg deel te neem. Omdat hulle nie onder ʼn kommando sorteer nie word hulle na Kommandant Generaal Louis Botha, die bevelvoerder geneem om uitgeplaas te word. Hy sê dat hulle die perde wat agter die rante versteek was, moes help oppas. Matthys protesteer en sê hulle het kom veg en nie kom perde oppas nie.
94 Generaal Louis Botha besluit toe dat hulle mag aanbly, solank hulle hul by die ou manne en offisiere bo op die rant ingrawe en nie saam met die ander burgers laer af aan die voet van die rant skaar nie. Die seuns het dit dan ook so gedoen en het hulle in die rante bo Pontdrif ingegrawe en dus ʼn goeie uitsig oor die gevegsterrein gehad. Generaal Louis Botha Die Britse bevelvoerder, generaal Redvers ( Rooivers) Buller, stuur toe die 5de (Ierse) brigade, onder bevel van generaal-majoor Fitzroy Hart, om die Tugelarivier by Bridle Drift te kuis. Hulle gids, wat hulle plaaslik gewerf het, was nie Engels magtig nie en lei hulle egter toe verkeerdelik na Pontdrif. Generaal Botha besluit toe dat daar gewag moes word totdat die meeste van die Britse troepe reeds deur die rivier beweeg het, voordat daar op hulle losgebrand sou word. Hy gee toe bevel dat niemand ʼn skoot mag skiet voordat hy nie skiet nie. Voordat die eerste troepe deur die rivier was, klap ʼn skoot egter. Na die geveg kon niemand sê wie die skoot geskiet het nie, want onmiddellik daarna het almal gelyk hul gewere afgetrek. Die boere was toegerus met 7x57 Mauser gewere wat met die nuut ontwikkelde rooklose kruit (nitro) geskiet het. Die Britte het verwag dat die boere hulle bo-op die rante sou ingrawe en het ook die rook van die kanonne bo op die berg waargeneem. Hulle het gevolglik hul gewere daarheen gemik. Hulle koeëls het dus meestal skadeloos oor die Boerekrygers getrek. ʼn Boere 75mm Creusot kanon se uitkyk oor die Tugela
Matthys het later vertel dat die Britte nog met die kolonne met bevel – ready, aim, fire – geveg het. Hy het vertel dat jy die rook by die kolon kon sien uitslaan en dan oomblikke
95 later ʼn harde slag gehoor het. Die boere se Mausers het meer konstant geratel wat hy soos springmielies in ʼn pot beskryf het. Die slag het twee of drie dae geduur. Nadat die Britse magte terug getrek het, was daar aan die Britse kant, 143 dooies, 755 gewond en sowat 240 totaal vermis. Aan Boere kant was 8 dood, sowat 30 gewond en is 10 van die 44 kanonne van die Britte gebuit. Matthys het vertel dat hy gedurende die geveg feitlik nooit ʼn skoot afgetrek het nie. Hy was taamlik ver van die Britte en moes dus baie fyn en sekuur korrel vat as hy een wou plattrek. As hy nog so op ʼn Brit aanlê en korrel dan val die Brit nog voordat hy kon skiet. Na die geveg het hy talle Britse soldate gesien wat in sulke vlak grafte begrawe was dat van hul ledemate nog bo die grond uitgesteek het. Die res van die oorlog het Matthys hom by ʼn klein groepie burgers onder leiding van Generaal Kemp aangesluit wat verrassingsaanvalle op die Engelse gedoen het. Hy word toe met ʼn Lee Metford koeël deur die regter voorarm geskiet en gaan kruip toe op ʼn plaas weg waar ʼn ou tannie wat nog nie van haar plaas verwyder was nie, hom behandel het. Na die herstel van sy arm het hy weer aan skermutselings met die Britte deelgeneem. Matthys het hom altyd daarop beroep dat hy nooit gevang was nie en deel van die bittereinders was. Hy en sy kommando het eers meer as ‘n week nadat die Vrede van Vereeniging geteken is, die wapens neergelê. Hy het ook eers op sy sterfbed in 1954 in Pretoria sy wrok teen die Britte laat vaar en hulle vergewe.
Britse kanonne deur die boere by Colenso gebuit
96
Hoofstuk 27 – Enkele staaltjies van Matthys Johannes van Staden
Matthys Johannes van Staden en Susanna Jacoba Scheepers op hul troudag in Ermelo op 8 Desember 1931.
97 Toe Matthys sowat 3 jaar oud was, het hy by ʼn watervoor of sloot gestruikel en met sy linkerhand op ʼn klompie warm kole geval. Die hand was seker vreeslik seer en sy ma wou dit nie oop forseer nie en het dit met sy vingers in ʼn toe vuis verbind. Sy drie middel vingers het toe aan sy handpalm vasgegroei en sy hy kon dus nooit weer sy linkerhand oopmaak nie. Sy Zulu naam was dan ook Goba Hlandla wat gebuigde hand beteken, gewees. Na die oorlog het hy vir ʼn hele aantal jare vir ʼn joiner, oom Theuns Erasmus gaan werk. Die joiners het nie hulle grond en besittings na die oorlog verloor nie en was daarom meestal ryk mense. Die Erasmusse was boere wat teen die grens van Swaziland, in ʼn gebied wat as Klein Vrystaat bekend gestaan het, geboer het. Matthys moes in die winter met die skape na die winterweiding trek en het die gebied so baie goed leer ken. Hy was ook Zulu goed magtig. Na ʼn aantal jare het Matthys egter ʼn veeinspekteur geword wat die distrik van Piet Retief tot by Pongola moes behartig. Nog ʼn staaltjie oor sy jongdae was dat hy eendag ʼn Lammergeier of Baardaasvoël in die veld teëgekom het. Daar was daardie tyd geglo dat hierdie voëls lammers vang, vandaar hulle naam as Lammergeier. Hy slaan toe die voël met ʼn sweep wat hy by hom gehad het, en met die terugruk, ruk hy die voël bo-op hom. Die aasvoël slaan sy kloue in sy linker pols in en byt hom ook aan die arm. Hy kon gelukkig sy knipmes uitkry en die voël keelaf sny. Die wonde het baie lank gevat om te genees en Thys het ʼn aantal letsels op sy arm daarvan oorgehou. Baardaasvoël of destydse Lammergeiers
98 Matthys het jare lank ʼn oujongkêrel gebly en eers op ouderdom 48 vir die eerste keer getrou. Hy ontmoet ʼn nooi, Susanna Jacoba (Sannie) Scheepers wat op ʼn plekkie met die naam Sulpher Springs as goewernante skool gehou het. Sannie het standerd 9 op die Carolina hoërskool geslaag. Matthys huur toe ʼn plaas, Kommetjie (Commetje) wat langs die pad van Piet Retief na Pongola net by die afdraai na Sulpher Springs geleë is. Die ou plaashuis kan vandag nog suid van die teerpad teen die ronde koppie wat soos ʼn onderstebo kommetjie lyk gesien word. Daar is Matthys se eerste twee seuns, Jacobus Frederik (29.11.1932), Christoffel Daniël (22.05.1934) gebore. Sannie Scheepers se ouers, Christoffel Daniël Scheepers en Fransien Hanke, het na ʼn ondervinding van Goddelike genesing, hulle by die sogenaamde Apostoliese Geloofsending (AGS) aangesluit. Sannie Scheepers het hierdie geloofsoortuiging natuurlik in die huwelik ingebring. Dit was nie lank nie, of Matthys het ook ʼn geestelike verdieping in sy geloof in die Here ervaar nadat sy oudste seun dodelik siek van witseerkeel geword het en hy deur gebed genees is. Hy was in sy ongetroude dae lid van die Vrymesselaarsbeweging of Bokryers soos hulle ook bekend gestaan het. Hoewel hy die Vrymesselaars nooit in die openbaar gekritiseer het nie, het hy die beginsels van die beweging as in stryd met sy Christelike geloof ervaar en so sterk daaroor gevoel dat hy sy handboek van die Vrymesselaars of ook genoem sy Bokryersbybel verbrand het. Later koop Matthys ʼn huis op ʼn burgererf in Piet Retief, met die adres Draadstraat nr. 1. Hier is Matthys se derde seun, ook Matthys Johannes gebore (29.4.1939). Die erf was regoor die dorpskamp en Matthys het daar ook ʼn aantal melkbeeste aangehou. Daarna word Matthys verplaas na die hoëveld streek en hy verkoop toe op Piet Retief en trek na Chrissiesmeer. Hy koop toe die plaas Witkop naby Piet Retief aan die Assegaairivier. Matthys het toe begin wrywing met die Engelse hoofde in die staatsdiens ervaar en het daarom as veeinspekteur bedank. Hy koop saam met sy swaer Gideon Scheepers twee klein plasies naby Witrivier. Die plase het as Sandfort en Pardini bekend gestaan. Die boerdery was egter nie ʼn groot sukses nie en na drie jaar verkoop Matthys die plase en trek na die plaas Witkop. Matthys het op ʼn stadium ʼn blou 1936 Chev motor gery en sy kollega, ook ʼn veeinspekteur het net so ʼn motor maar ʼn groen een gehad. Een dag toe hulle agter mekaar ry, was die drie seuns saam met Matthys in die motor. Hulle kom toe by ʼn rivier wat in vloed was. Die mans loop toe eers deur die stroom en besluit om deur die stroom te ry. Die kollega ry voor en sy motor gaan staan in die middel van die rivier met water op die enjin. Matthys besluit om eers sy Chev se waaierband af te haal sodat die waaier nie draai en water oor die enjin te gooi nie. Hy ry deur sonder ʼn probleem. Die drie seuns glo van daardie dag af dat hulle pa se blou Chev baie beter as die groen Chev was. Hoewel Matthys ʼn sterk Nasionale party ondersteuner was, en die Natte net Chevs en die Suid- Afrikaanse party ondersteuners of Sappe, Fords gery het, het Thys die tradisie
99 verbreek en ʼn splinternuwe 1940 model Willys vir 310 pond gekoop. Gedurende die Tweede wêreldoorlog was motorbande skaars en van swak gehalte. Sannie wou gereeld vir haar ouers op Breyten gaan kuier. Die pad van Piet Retief na Ermelo is sowat honderd kilometer en dan nog ʼn twintig kilometer verder tot by Breyten, alles grondpad. As hulle hierdie tog met die Willys aangepak het, het hulle gewoonlik ook ʼn bediende saam geneem om met die pomp van die bande te help. Daar was gewoonlik nie minder as ʼn half dosyn pap wiele op hierdie stuk pad nie. Tussen Piet Retief en Ermelo was daar gewoonlik ook by Bankkop gestop omdat die kar gekook het en dan moes hulle ook weer water ingooi. As hulle met ligdag wegtrek het, het hulle selde voor donker by Breyten aangekom.
Soortgelyke 1940 model Willys as wat Matthys besit het.
Matthys het in sy jong dae ook baie motorfiets gery. Hy het baie van die Indian motorfietse gehou en het die kleiner Scout bo die groter Chief verkies, omdat die fiets ligter en makliker hanteerbaar was.
100 Voorbeeld van Indian Scout motorfiets
Hulle verhuis later, in 1949, na Pretoria en woon eers op die grond van Matthys se broerskind Jacobus Frederik van Staden op Derdepoort. Daarna koop hy sy eie grond naby Waverley in Pretoria wat vandag as Bergtuin bekend staan. Na dorpstigting word die pad na die ou opstal as Van Stadenstraat vernoem. Die adres was aanvanklik Van Stadenstraat nommer 1. Later word dit Van Stadenstraat 81. Nog later word die straatnaam na Bosloeriestraat verander. Die ou plaashuis is later deur Matthys se oudste seun Jacobus Frederik (5) totaal herbou en is geleë wat vandag as die hoek van Bosloeriestraat en Breyerlaan bekend staan. Die straatadres is vandag Breyerlaan 1473. Dit is dan ook die huis waarin ek groot geword het. Die ou plaashuis was ʼn imposante opstal wat vroeër, onder andere aan die skilder Pierneef behoort het. Hy het blykbaar skilderye teen die mure geverf, maar omdat die mure nie van sement, maar met kalk gebou was, het nie een van die skilderye of mure die toets van tyd deurstaan nie.
101
Plaashuis in Pretoria en verband’s dokument
102 Matthys het hier ʼn melkery bedryf waar hy op 18 November 1954, op die ouderdom van 71 aan maagkanker oorlede is.
103 Hoofstuk 28 – Familie nalatingskap As ek terug kyk na die geskiedenis van die van Stadens, sien ek meer as ʼn groep mense wat dieselfde familienaam gedeel het. Ek sien mense waarmee die lewe gebeur het. Baie van die belewenisse was onbepland en onverwags, en soms baie moeilik. Verdrukking, oorlog en lyding het feitlik geen geslag ontsnap nie. Dit was mense wat na aan die aarde geleef het en konstant aan die natuur en elemente blootgestel was. Tog was daar hoop, geloof en passie vir die toekoms wat nooit gewyk het nie. Mense met ʼn nalatingskap. Mense wat bome geplant het.
President Kruger se bekende woorde van” neem uit die verlede wat goed is en bou daarop die toekoms” is steeds net so relevant soos destyds.
Word vervolg ...........
Inligting oor die skrywer: Die skrywer, Herman (Hermanus Abraham) van Staden is die tweede oudste kind van Jacobus Frederik van Staden, oudste seun van Matthys Johannes van Staden. Hy is vir die afgelope 30 jaar met Charmelle van Staden getroud en hulle het twee volwasse kinders, Charmonique en Jacques. Hy is al vir meer as twintig jaar betrokke by die bestuur van besighede in die vleisbedryf, wat onder andere ʼn voerkraal, ʼn slagpale en verskeie vleis-groothandel aanlegte insluit. 17 Desember 2012