23/9/2002
F W de Klerk Gedenklesing: SA se Nuwe Grondwetlike Bedeling: Uitdagings en Geleenthede Toespraak gelewer deur F W de Klerk aan die Universiteit van Potchefstroom vir C.H.O.
U sal my toelaat om op ‘n sentimentele noot te begin. Dwarsdeur my lewe was my verbintenis met die P.U. vir C.H.O vir my van besondere waarde. Potchefstroom is in my bloed en my erfenis; Potchefstroom het my gevorm en geslyp vir die utidagings wat later op my weg sou kom; Potchefstroom het ‘n spesiale plek in my hart en my lewe. Daarom is dit vir my ‘n besondere gebeurtenis dat die Regsfakulteit, waar ek my juridiese tande gesny het en wat my in samehang met my Kanselierskap met ‘n ere doktersgraad vereer het, my nou weer vereer deur die instelling van wat genoem sal word die F W de Klerk Gedenklesing. Ek hoop van harte dat hierdie platform wat u vanaand skep, ‘n lanseerpunt sal word vir skeppende denke, opbouende kritiek en hoopgewende visie tot voordeel van ons land en al sy mense. Ons land het in die afgelope 12 jaar ‘n traumatiese veranderingsproses beleef. Dit was nodig, dit was onafwendbaar en dit het ons gered van katastrofe. Een van die belangrikste resultate van dié proses was die daarstelling van ‘n nuwe Grondwet. Daaroor wil ek vanaand met u praat. Die versoeking is daar om defensief oor ons nuwe Grondwet te praat, om te reageer op die afbrekende kritiek uit konserwatiewe oorde wat dit voortdurend afkraak as oorgawe en uitverkoping. Ek is egter nie van plan om daaraan toe te gee nie. Ten beste berus sulke kritiek op ‘n onrealistiese siening van wat prakties haalbaar en moreel regverdigbaar was tydens die onderhandeling van die Grondwet. Heel dikwels word dit boonop aangevuur deur verdraaiïng van die destydse regering se doelwitte en ondernemings en meer as ‘n knippie rassisme.
2002-09-23
Die FW de Klerk Stigting
Dit het tyd geword dat ons wegstuur van die steriele debat oor wat kon gewees het en fokus op wat ons het, wat dit beteken en hoe ons dit ten beste kan aanwend in die beste belang van Suid-Afrika en al sy mense. As vertrekpunt wil ek my oortuiging uitspreek dat Suid-Afrika se Grondwet aan alle billike vereistes voldoen, wat aan die konstitusionele bedeling van ‘n moderne demokratiese staat gestel kan word. Ons Grondwet: • verskans die standaard universele demokratiese grondbeginsels soos die skeiding van magte, gereelde verkiesings, gelyke stemreg, die onafhanklikheid van die howe en verantwoordbaarheid van die uitvoerende gesag; • stel ‘n Regstaat daar waarin alle wetgewing enuitvoerende gesagsbesluite onderhewig gestel word aan die Handves van Regte soos vervat in die Grondwet; • skep ‘n netwerk van meganismes om magsmisbruik en wanpraktyke te voorkom of aan die kaak te stel; • verbind en verplig ons land tot ‘n kultuur van menseregte en die handhawing van fundamentele vryhede aan die hand van omvattende omskrywings en voorskrifte, in pas met die beste wat elders bestaan; en • gee erkenning aan die diversiteit van die Suid-Afrikaanse nasie en die regte van kultuur-gemeenskappe wat daaruit voortvloei. Natuurlik is die Grondwet nie perfek nie. Voorstaanders van federalisme, waarvan ek een is, sou byvoorbeeld die provinsies met veel meer magte en groter outonomie beklee wou sien. Ek sou ook, soos almal weet, duidelike bepalings oor ‘n vorm van magsdeling op uitvoerende gesagsvlak wou sien, maar is in ons pogings om dit te verseker in die steek gelaat deur die IVP en die DP. Sonder hulle stem kon ons nie die vereiste 33,3% verkry wat ons in staat sou stel om uit ‘n posisie van krag te onderhandel nie. Insgelyks sal ANC ondersteuners talle voorbeelde kan noem van bepalings in die Grondwet wat hulle ongelukkig stem. Almal in die proses het opofferings en toegewings gemaak en sou tekortkomings vanuit hulle onderskeie oogpunte kon identifiseer. Ondanks sulke tekortkomings, is die eindresultaat nogtans ‘n goedgebalanseerde staatsregtelik aanvaarbare Grondwet. Maar dit is ook veel meer. Die dieper betekenis daarvan is geleë in die omstandighede waarin dit gebore is. Só gesien is die Grondwet ‘n kragtige simbool van versoening, van opregte strewe na geregtigheid en van die beëindiging van eeue lange konflik en botsende aansprake. Só gesien is dit die beliggaming van ‘n historiese kompromie ten opsigte van die reëls waartoe die politieke leiers van Suid-Afrika hulle plegtig verbind het – reëls gerig op: 2
2002-09-23
Die FW de Klerk Stigting
• die versekering van vrede en sekuriteit vir almal; • die skepping van welvaart waarin almal kan deel; • die omskepping van Suid-Afrika tot ‘n nie-rassige land waarin diskriminasie geen plek sal hê nie; • wedersydse respek vir die kultuurgoedere en verwante regte van elke deel van ons bevolking; en • gelykheid vir almal voor die reg. Teen hierdie agtergrond is dit nou ses jaar na aanvaarding ‘n geleë tydstip om te vra: Waar staan ons met die Grondwet? Word daar voldoende uitdrukking gegee aan die grondliggende doelwitte daarvan? Word die regte daarin vervat behoorlik eerbiedig? Watter probleme en uitdagings kan ons identifiseer? Ek glo dat, wat die tipies staatsregtelike bepalings aanbetref, dit heel goed gaan. Daar is egter gevaarligte wat flikker ten opsigte van die Handves gedeelte van die Grondwet. Sonder aanspraak op volledigheid wil ek die volgende uitlig: Ons veelparty demokrasie is nie werklik gesond nie. Die feit is nie te wyte aan die Grondwet self nie, maar wel aan die stempatrone van ons kiesers. Meeste SuidAfrikaners stem steeds volgens etniese patrone en het nog nie die sprong na nierassige waardegedrewe politiek gemaak nie. Die gevolg is ‘n dominante regerende party wat nie tans geloofwaardig uitgedaag word nie. Kiesers wat vir opposisiepartye stem raak passief omdat hulle ontmagtig en vervreemd voel. Die Parlement is nie naastenby die dinamiese forum wat dit behoort te wees nie. Ons veelparty demokrasie is inderdaad nie gesond nie! Hierdie situasie skep ongelukkig ‘n teelaarde vir verwaarlosing en aftakeling van die Grondwet en Handves. ‘n Ontstellende prentjie is besig om te ontstaan: • ‘n regerende party wat in ‘n hoë mate kan maak en breek soos hy wil; • ‘n privaatsektor wat bang is om die regering te konfronteer; en • individue, instansies en organisasies wat nalaat om hulle grondwetlike regte op te eis, óf uit vrees óf omdat hulle voel dis beter om in die maghebbers se goeie boeke te bly. Die erns hiervan word duideliker as ons na ‘n paar spesifieke terreine kyk. Voordat ek daartoe oorgaan wil ek egter eers een saak bo alle twyfel stel: Ek ondersteun van harte die noodsaak van transformasie, gerugsteun deur gebalanseerde regstellende aksie. Daar moet verandering op alle lewensterreine kom. Ons kan nie maar net voortgaan soos in die verlede nie. Die erfenis van die historiese bevoorregting van veral Blanke Suid-Afrikaners moet vervang word met ‘n bestel van gelyke geleenthede vir almal. Alle vorms van diskriminasie moet wortel en tak uitgeroei 3
2002-09-23
Die FW de Klerk Stigting
word. Toegang tot kwaliteit onderwys vir almal is ‘n moet. Welvaartskepping gekoppel aan meer gelykmatige verspreiding daarvan, is ‘n uiters belangrike prioriteit. Ek wil ook beklemtoon dat ek nie besig is om ‘n politieke sluipaanval op die ANC te loods nie. In die algemeen betoon die ANC sigself as steeds toegewyd tot die Grondwet en ek bevraagteken nie die bona fides hiervan nie. Wat wel gebeur is dat die regerende party, in sy ywer en soms oorywer om bepaalde doelwitte te bereik, dinge doen of laat deurglip wat wel belangrike bepalings van die Grondwet in die gedrang bring. Wanneer ek dus kritiek uitspreek, gaan dit oor die wyse waarop noodsaaklike doelwitte nagestreef word, en geensins oor die vraag of transformasie nodig is nie. Binne hierdie raamwerk dan, wil ek op ‘n aantal probleemareas fokus. • Vryheid van Assosiasie Hierdie reg word duidelik erken in die Grondwet, solank dit nie met diskriminasie gepaard gaan nie. Tans verkeer dit onder geweldige druk. In die aandrang op transformasie kom die beginsel van proporsionaliteit sterk na vore. Dit gaan dan saam met die vae maar soms uitgesproke dreigement dat diegene wat nie tot die bevrediging van die regering optree nie, deur wetgewing daartoe gedwing sal word. As hierdie benadering tot sy uiterste konsekwensies gevoer sou word, sal dit ‘n bespotting maak van vryheid van assosiasie en die outonomie van vrywillige en nie-regeringsorganisasies. • Taal en Onderwys Die reg wat Artikel 19(2) van die Grondwet bied ten opsigte van onderwys in die taal van keuse, loop die risiko om al hoe meer op die agtergrond geskuif te word. Insgelyks word nagelaat om ten volle reg te laat geskied aan Artikel 6 van die Grondwet met betrekking tot ons 11 landstale. Ten opsigte van beide onderwys en taal in die algemeen is daar ‘n duidelike tendens om Engels die de facto dominerende taal te maak. • Regstellende Aksie en Diskriminasie Die Grondwet is duidelik in sy voorskrifte in Artikel 9 dat die sterk verbod teen diskriminasie op watter grond ookal aan die een kant, en die behoefte aan regstellende aksie ten opsigte van diegene wat benadeel is deur “unfair discrimination” aan die ander kant, in samehang met mekaar hanteer moet word. Regstellende aksie, wat in wese diskriminasie ten gunste van bepaalde klasse of
4
2002-09-23
Die FW de Klerk Stigting
groepe van persone beteken, kan en moet dus aan bepaalde toetse onderwerp word. Ongelukkig vind hierdie balans tussen nie-diskriminasie en regstellende aksie nie voldoende neerslag in die praktyk nie. Tewens, die oorheersende indruk by baie is dat die verbod teen diskriminasie heel dikwels in die naam van regstellende aksie verkrag word; dat die begrip benadeeldes (disadvantaged) verkeerdelik bloot aan ras en kleur gekoppel word; en dat Suid-Afrika ‘n ernstige risiko loop om weereens ‘n staat te word waarin diskriminasie op grond van kleur die norm word. ‘n Mens sou nog ander sake kon identifiseer waaroor daar rede tot kommer is. Vrese oor eiendomsreg, aangeblaas deur die gebeure in Zimbabwe en voorgenome planne rakende minerale regte, tree na vore. Dit is egter nie my doel om ‘n klagstaat of griewelys op te stel nie. Die sake wat ek uitgelig het dien as voldoende voorbeelde ter toeligting van die behoefte aan pro-aktiewe stappe om die eerbiediging van al die bepalings van die Grondwet te verseker; om die geleidelike aftakeling van sommige sleutelbepalings te stuit; en om die Grondwet uit te bou as die hoeksteen van geregtigheid en sekuriteit vir alle Suid-Afrikaners. Dit dan is die uitdaging. Die vraag is wat kan daaraan gedoen word? ‘n Logiese beginpunt in die soeke na antwoorde op hierdie vraag lê vir my op die vlak van voorkoming. Ek sou graag ‘n kultuur wou sien ontwikkel waarin alle beleidsbesluite en wetsontwerpe voor finalisering of indiening aan streng grondwetlike toetse onderwerp word. Net soos die regering, en tewens ook maatskappye en ander gesagsliggame, in besluitnemingsprosesse getrou vra na die finansiële implikasies en bekostigbaarheid, net so moet daar na die grondwetlike implikasies gevra word. En net soos die tesourie in die geval van die Staat, ‘n spesiale verpligting het om die waghond oor besteding te wees, behoort daar ‘n objektiewe spesiale instelling te wees wat kan waak teen besluite en nuwe wetgewing wat die Grondwet kan aftakel. Ek onderstreep in die verband die woord “objektiewe”. Die opstellers van memoranda en konsepwetgewing kan ‘n rol speel, maar is noodwendig meer subjektief ingestel op hulle hooftaak. Objektiwiteit in so ‘n proses is ook belangrik in die vestiging van vertroue by diegene wat nie deel is van die besluitnemingsproses nie. Daarom behoort só ‘n instelling los te staan van die inisieerders van beleid en wetgewing. Indien ek vind dat hierdie idee byval vind, is ek van plan om dit, deur middel van die F W de Klerk Stigting en in interaksie met belanghebbendes en 5
2002-09-23
Die FW de Klerk Stigting
belangstellendes, verder te voer – ook in gesprek met die regering, sonder wie se steun dit kwalik deurgevoer kan word. ‘n Tweede behoefte, op die vlak van voorkoming van grondwetlike mistasting, bestaan by opposisie partye. Uit ervaring weet ek hoe dol dit dikwels gaan en hoe groot die las op die skouers van opposisielede is. Dit is te veel gevra, veral van wetgewers wat nie ‘n regsagtergrond het nie, om te verwag dat hulle grondwetkenners ook moet wees. Ek wil dus aan die hand doen dat opposisie partye bemagtig moet word om regsadviseurs aan te stel wat hulle kan bystaan in hulle taak om die Grondwet te help beskerm. Ook hierdie gedagte sou ek wou help bevorder, indien dit op vrugbare grond val. Dit gesê, besef enige realis dat voorkoming nooit onfeilbaar is nie. Omdat dit so is, het ons ‘n Grondwetlike Hof, beklee met die mag om wetgewing en gesagsbesluite ongrondwetlik te verklaar. Hierdie instelling is die finale arbiter oor grondwetlike sake. Dit is ‘n hoeksteen van ons nuwe “Rechtstaat”. Dit bied ‘n effektiewe toevlug aan almal wie se grondwetlike regte en beskerming aangetas of ondermyn word. Die vraag is of dit voldoende benut word. Ek het reeds verwys na die feit dat daar na my mening dikwels deur verontregte partye nagelaat word om hulle grondwetlike regte op te eis. As ‘n mens luister na die openbare debat en die briewekolomme van veral Afrikaanse koerante volg, dan is dit vreemd dat so min van die 150 uitsprake van die Grondwetlike Hof tot onlangs te doen gehad het met onderwys en taalsake of met rassediskriminasie. Tewens, dit het ‘n vorige Voorsitter van die Menseregte Kommissie genoop om in 2000 uit te roep dat sy kommissie nie geblameer kan word as partye nie hulle regte opeis nie. As ‘n mens sou vra waarom dit so is, dan is daar – naas negatiewe faktore soos passiwiteit, vrees of misplaasde politieke korrektheid – seker ook soms goeie redes waarom die Grondwetlike Hof nie meer besig gehou word nie. Hieronder tel na my mening die geweldige hoë koste verbonde aan litigasie asook onkunde oor die Grondwet. Die gevolg is dat die sake wat wel voor die Grondwetlike Hof dien meestal deur vermoënde partye, of nou en dan deur idealistiese juriste op ‘n pro amico basis, aanhangig gemaak word. Waarheen wend individue, klein sakemense en arm skoolkomitees hulle, wanneer hulle regte aangetas word; wanneer daar teen hulle gediskrimineer word op grond van ras of geslag; wanneer hulle taalregte verontagsaam word? Die meeste bestaande nie-regeringsorganisasies wat in die verband dienste en advies aanbied kom uit die “struggle” geskiedenis. Hulle fokus is nie gerig op die problematiek verbonde aan sake soos bv taal- en kultuurregte, vorms van sogenaamde omgekeerde diskriminasie en die outonomie van universiteite en sportliggame nie.
6
2002-09-23
Die FW de Klerk Stigting
Teen hierdie agtergrond glo ek dat daar ‘n leemte is wat gevul moet word. Daar is ‘n behoefte aan ‘n onafhanklike instelling wat bereid is om hierdie leemte te vul; wat bereid is om juis toe te spits op dié terreine waarop die gevaarligte flikker. Let wel, ek bepleit nie ‘n regse, anti-transformasie instelling nie. Wat nodig is, is ‘n organisasie wat dit sy besigheid maak om te waak teen ‘n waarneembare tendens van aftakeling van bepaalde kategorieë van geldende bepalings in die hoogste wet van ons land, die Grondwet van Suid-Afrika. Oor hierdie saak het die F W de Klerk Stigting reeds, saam met ander belanghebbendes, aanvoorwerk begin doen. Daar is groot belangstelling en ons hoop om binne afsienbare tyd ‘n werkswinkel te reël waar die stigting van so ‘n instelling verder gevoer kan word. Enige insette, ook met die oog op deelname sal verwelkom word. Natuurlik is hierdie voorstelle oor wat pro-aktief gedoen kan word om die Grondwet te versterk ver van ‘n uitputtende lys. Dit is maar ‘n beskeie bydrae tot ‘n noodsaaklike debat – ‘n debat wat ek glo meer intens en doelgerig gevoer moet word, ‘n debat wat al hoe meer mense moet betrek; en ‘n debat waarin die regsfakulteite en regspraktisyns van Suid-Afrika ‘n sleutelrol te speel het. Ons durf nie lou-warm staan oor die Grondwet nie. Uiteindelik is dit die fondament van die Nuwe Suid-Afrika en die beliggaming van die waardesisteem wat ons gekies het. As ons daarvan afdwaal, dan loop ons die ernstige risiko om terug te val in onderdrukking, rassespanning en onverdraagsaamheid, met die gepaardgaande konflik en skade vir almal. As ons egter verseker dat die Grondwet, in sy volle omvang, ‘n lewende werklikheid in die bestaan van alle Suid-Afrikaners word, dan word dit die grondslag van langtermyn vrede, stabiliteit en vooruitgang.
7
2002-09-23
Die FW de Klerk Stigting
Die FW de Klerk Stigting: Zeezicht Gebou, Tygerberg Kantoorpark, Hendrik Verwoerd Rylaan 163, Plattekloof 7500, Suid-Afrika. Posbus 15785, Panorama, 7506, Suid-Afrika. Tel 0027 (0) 21 930 3622. Faks: 0027 (0) 21 930 0995. Epos:
[email protected]. www.fwdklerk.org.za
8