Wie sal ingaan in die koninkryk van God? - Die honderdguldenprent van Rembrandt Selfs by mense wat nie ’n interesse in kuns het sal die naam Rembrandt ’n klokkie lui. Saam met kunstenaars soos Da Vinci, Michelangelo, van Gogh en Picasso val hy onder die bekendste kunstenaars. Wat hom egter besonder maak is dat hy, anders as hule, ’n protestante christen was. Iets wat ook in sy werk deurgekom het. Dit maak hom vir ons, wat dieselfde geloofsoortuiging as hy deel, baie toeganklik. Mens word juis getref deur die Bybelse boodskap wat hy so meesterlik verbeeld. Rembrand van Rijn woon in die 17e eeu in Amsterdam. Nederland beleef dan sy Goue Eeu. Die Reformasie het plaasgevind, daar is godsdiensvryheid, ’n opbloei van die handel, baie mense van ander lande stroom in en ook die kunste beleef ’n bloeitydperk.
Rembrandt, Honderdguldenprent, ca. 1649,278x388 mm
Die honderdguldenprent Behalwe skilderye maak Rembrandt ook etse. ’n Ets is as ’n kunstenaar die afbeelding in ’n metaalplaat gegrafeer. Daarna word ink in die groewe van die metaalplaat gesmeer en meerdere afdrukke kan op die manier gemaak word. Die honderdguldenprent is ’n voorbeeld van ’n ets wat deur Rembrandt gemaak is. Hierdie ets geniet op grafiese vlak dieselfde bekendheid as die “Nagwag” op skilderkunstige vlak . Selfs in die 17e eeu is die ets hoog aangeslaan. Dit bewys die bynaam honderdguldenprent as gevolg van die honderd guldens wat in Rembrandt se dae vir hierdie ets betaal is. ’n Ongehoord hoë bedrag vir ’n ets waarvan daar meerdere afdrukke gemaak kan word en dus nie so uniek is soos ’n skildery nie! Rembrandt het tussen 1640 en 1650 aan hierdie ets gewerk. As ’n mens kyk na hoeveel voorstudies hy daarvoor gemaak het en ook hoeveel kere hy die metaalplaat verander het en bygewerk het, besef ’n mens dat dit die produk is van ’n intensiewe geestelike en artistieke worsteling. In plaas van honderdguldenprent kon hierdie ets miskien eerder die naam ”Wie sal ingaan in die koninkryk van die hemele“ gekry het. Die voorstelling is namelik gemaak na aanleiding van Mattheüs 19. In daardie hoofstuk kom daar verskillende mense na Jesus: Siek mense om genesing te soek, Fariseërs met ’n strikvraag oor egskeiding, ’n ryk jong man asook moeders wat hulle kinders na Jesus bring. Hierdie ets is nie ’n blote illustrasie van die gebeure soos wat ’n mens dit byvoorbeeld in ’n kinderbybel sal kry nie. Dit is eerder ’n beeld waarin hy die essensie van daardie hoofstuk wil saamvat – amper soos ’n visuele preek. Gebeurtenisse wat in die hoofstuk na mekaar gebeur, word hier gelyktydig afgebeeld. Daar word ook ander simbole toegevoeg, amper soos teksverwysings, om die sentrale gedagte te ondersteun. Om die honderdguldenprent beter te kan verstaan, sal daar nou in detail na sekere gedeeltes gekyk word: Christus sentraal Christus staan in die middelpunt. Sy kop steek bo al die mense uit. Hy is groter in verhouding as die ander mense. ’n Ligkrans om sy kop dui op sy goddelikheid. Sy houding straal waardigheid en kwetsbaarheid uit. Sy hande hou hy verwelkomend uitgesprei. Sy hande maak egter ook die tradisionele gebaar van Jesus as die Regter wat ons dikwels in skilderye oor die laaste oordeel sien. Die omhoogwysende hand stuur mense na die hemel (gewoonlik sy regterhand) en die omlaagwysende hand stuur die mense na die hel (gewoonlik sy linkerhand). Interessant dat hier die hande omgekeer is. Later sal meer daaroor gesê word. Die finale
oordeel is nog nie gevel nie. Rembrandt gebruik die verwysing net om op die erns van ons keuses vandag te wys. Die Fariseërs
Aan die regterkant van Christus, die verste van Hom af, staan ’n groepie Fariseers. Hulle keer hul rug op Christus. Hulle is duidelik besig om saam ’n bietjie neerhalend oor Jesus te praat. Kyk hoe mooi het Rembrandt dit reggekry om daardie selfingenome houding in hulle gesigte tot uitdrukking te bring! Dit is nie toevallig dat hulle almal rond ’n witgepleisterde muurtjie staan nie. Die disipels
Die dissipels is naby Christus aan sy regterhand – die afwysende hand. As ’n mens Mattheüs 19 lees verstaan ’n mens waarom Rembrandt hulle daar geplaas het. Elke keer toon hulle onbegrip en onwil. Wanneer die Here die Fariseeers se idees oor egskeiding afwys, reageer hulle krities. Net so ook as hy op die gevare van rykdom wys. En wanneer die moeders met hulle kindertjies kom, vererg hulle hulself. Die dissipel wat die naaste aan Jesus is kan ’n mens op grond van die
manier wat hy gewoonlik afgebeeld word, identifiseer as Petrus. Met sy een hand probeer hy die vrou terug hou wat haar baba na Christus wil bring.
Die ryk jong man en die moeders met hul kinders
Tussen die twee moeders sit die ryk jong man. Sy klere, haarstyl en deftige stewels dui op ’n welvarende lewe. Hy sit daar egter terneergedruk, sy hand voor sy mond. Hy kan nie sy rykdom opoffer om Jesus te volg nie. Die kameel wat heeltemal regs op die ets deur die poort kom is ’n verwysing na wat Jesus in Matth 19:24 sê: “dit is makliker vir ’n kameel om deur die oog van ’n naald te gaan as vir ’n ryk man om in die koninkryk van God in te gaan. “ Die klere van die vrou wat haar baba na Christus bring dui ook daarop dat sy ’n ryk vrou is. Tog keer haar rykdom haar nie om haar baba na Christus te bring nie. Uit die posisie waarvandaan hulle kom is Christus se hand nie afwysend nie, maar eerder uitnodigend. ’n Ander ma twyfel nog, maar haar kind wys na Jesus en trek haar saam. Hier sien ons ’n sinspeling op Matth 18:3: ” as julle nie verander en soos die kindertjies word nie, sal julle nooit in die koninkryk van die hemele ingaan nie.” Agter die seuntjie lê ’n hondjie. In die beeldtaal van die 17e eeu is ’n hond simbolies vir trou. ’n Hond ken sy meester en volg hom. Hier kan ook ’n verwysing na Matth 15:24-28 in wees, veral omdat dit lyk asof daar langs die hond ’n stuk brood lê. Die Jode het God afgewys, terwyl die heidene om hulp vra. Die siekes en ellendiges Aan die regterkant sien ons die mense wat Christus gevolg het soos wat in Matth 19:2 staan. Onder hulle is ’n hele aantal siekes saam met hulle begeleiers. Daar word selfs ’n sieke in ’n kruiwa na die Here gebring. Die mense is nie net siek nie, hulle is in ellende gedompel. Visueel gaan hierdie groep gebuk onder die groot donker gedeelte bo hulle koppe. Vooraan die groep is daar ’n aantal mense wat in gebed hulself na Christus rig. Die siekes raak so ook simbolies vir die mense wat hulle ellende ken en daarom hulself tot Christus wend. Die vrou uit Afrika
Heeltemal in die hoek sien ons ’n vrou met Afrika gelaatstrekke as verteenwoordiger van die heidene vir wie die heil bedoel is nadat die Jode dit verwerp het. Alhoewel sy haar mus oor haar oë het (in die beeldtaal van die 17e eeu simbool vir geestelike blindheid), wys sy na Christus. Dit kan gesien word as ’n vooruitblik op die feit dat later baie volke Christus as hulle Verlosser sal sien. By haar staan ’n os. Dit verwys na Jesaja 1:3 ”’n Os ken sy besitter..., maar Israel het geen kennis nie, my volk verstaan nie.”
Baie wat eerste is sal die laaste wees Opvallend is die baie teenstellings in die ets. Links lig, regs donker, links hoog, regs laag, ryk en arm, mens en dier, mense wat hulleself verhef en die wat neerkniel. Dit is kontraste wat pas by die teks waarmee Mattheus 19 afsluit: “Baie wat eerste is sal die laaste wees.” Die evangelie draai ons wêreldbeeld om. “By mense is dit onmoontlik, maar by God is alle dinge moontlik” Matth19:26.
Die gat op die voorgrond waarop ’n tak lê sluit waarskynlik by hierdie teenstellings aan: “Wie ’n kuil grawe, sal daarin val”. Die klip langs die gat kan ’n verwysing wees na Christus as steen des aanstoots. (Rom.9:33) Genade sentraal Van al die omkerings in die ets is die opvallenste seker Christus se hande wat omgekeer is. Die afwysende hand regs en die vrysprekende hand links. Die oordeel is nog nie finaal nie! Boon-op is die vrysprekende hand heeltemal sentraal in die komposisie. Genade in die middelpunt! Jenny Boon (vir die skryf van hierdie artikel is gebruik van W.L. Meijer se boek Kleinood en aanstoot. De honderdguldenprent en andere bijbelse historiën van Rembrandt. J.J.Groen en Zoon – Leiden,1995)
DE HONDERDGULDENPRENT, REMBRANDT
Zieken die zichzelf verstaan als blinden, Trekken op het licht aan door de poort, Zien Hem wie hun leven toebehoort En aanbidden, voor ze heling vinden.
Wie met mensenregels mensen binden, Spannen – allen kerngezond – gestoord Hun verlichte ruggen naar het Woord: 1
Smoezend worden ze gelijkgezinden.
2
Pal naast liefde die voor rijkdom zwicht
Krijgt een moeder – hoogheid wil haar weren – 3
Koninklijke zegen voor haar wicht .
Vrolijk rukt een joch4 aan arme kleren, Toont de groten dat je Jezus vindt Zelfvergeten open als een kind. W.L. Meijer
1
onderlangspratende val 3 kind 4 seuntjie 2