12. Almal is welkom Handelinge 10:1 – 11:18 Tema Die Heilige Gees maak die poorte oop vir Jesus se volgelinge om die grense na alle mense met die evangelie oor te steek.
Agtergrond en interpretasie BA Müller skryf soos volg (Woord teen die lig 1/10, bl 23 ev): In sewe tonele word ʼn spanningsgelaaide verhaal geskilder van ʼn vroom heiden in ʼn aarselende , dog gehoorsame “sendeling”; van vroom gebede en onverstaanbare visioene; van mense wat vanuit ʼn gebrekkige verstaan gelei word tot ʼn nuwe verstaan van God se wil vir sy kerk en die wêreld. Sewe totele waarin die evangelie-verkondiging van Jesus se kruis en opstanding uitbreek uit sy gevangenskap in ʼn Joodse ghetto na die wêreld van Romein en Griek. Waaroor gaan die sewe tonele? 1. Kornelius, die godsdienstige (ʼn Romein wat dalk die God van die Jode aanbid?), kry ʼn opdrag van God terwyl hy bid. ʼn Beweging begin … 2. Petrus gaan bid en ontvang drie keer ʼn visioen. 3. Petrus en Kornelius se afgevaardigdes ontmoet, en die Gees sê vir Petrus hy moet saam met hulle gaan. 4. Die volgende dag gaan Petrus saam met Kornelius se gesante. Hy oorskry grense wanneer hy as “Jood” by ʼn heiden se huis ingaan … maar God het vir hom gewys … (v 28). Die Rabbyne het die heidene en hulle huise as “onrein” beskou omdat hulle nie al die kos-wette en ander reinheidsgebruike van die Jode onderhou het nie. 5. Daar wag ʼn gehoor (v 33) op Petrus se toespraak (v 28-43). Vers 34 word as “inleiding” tot die res van die boek Handelinge beskou. 6. Die “heidene” ontvang ook die Gees en word gedoop. 7. Petrus verantwoord hom voor die gemeente in Jerusalem en dit loop daarop uit dat God geprys word: “God het selfs mense wat nie Jode is nie tot inkeer gebring om aan hulle die lewe te gee.” Vir ʼn duidelike begrip van wat presies hier gebeur het, sal die situasie van Jode teenoor ander nasies in daardie tyd baie helder verduidelik moet word. Handelinge 9:31 trek die sirkels van Judea, Galilea en Samaria en die rus en vrede daarbinne terwyl die Heilige Gees die gelowiges versterk. Volgens Handelinge 1:8 maak die Gees die poorte vir gelowiges oop om “tot in die uithoeke van die wêreld” na alle mense te gaan as deel van God se groot reddingsplan. Leef soos Jesus LP3 Jaar 4 © Jeugfokus 2015
Vertel die hele verhaal in kort hooftrekke en lê klem op Handelinge 10:34-36.
Bybelgedeeltes en hoofgedagtes Bybelgedeelte (lees of vertel)
Hoofgedagtes van die ontmoeting
Vertel Handelinge 10:1-8 Vertel Handelinge 10:9-16 Vertel Handelinge 10:17-23a
1. Die beweging van Kornelius se kant af. 2. Petrus se gesig (visioen). 3. Petrus word deur Kornelius se gesante genooi, en deur die Heilige Gees saamgestuur. Vertel Handelinge 10:23b-33 4. Petrus ontmoet vir Kornelius. Lees Handelinge 10:34-36 en 5. Petrus se preek. vertel verder tot by vers 43 Vertel Handelinge 10:44-48 6. Die “heidene” ontvang dieselfde teken wat die Joodse gelowiges op Pinksterdag ontvang het (“net soos ons”). Vertel Handelinge 11:1-18 7. Petrus verduidelik aan die gemeente in Jerusalem wat gebeur het.
Uitkoms 1. Insig: God het nie witbroodjies (uit een groep mense) nie. 2. Insig: Dit gaan oor die “handelinge van die Gees van God”. Dis God wat hier werk.
Hulpmiddels by die storie 1. Paneel 7. 2. Die simbool van Pinkster saam met die paneel. 3. Prente van die Herz Jesu-kerk in München.
Hulpmiddels vir kleingroepvaslegging Junior kleingroep
Senior kleingroep
Bring saam
Bring saam
1. Skêre. 2. Gomstafies, een vir elke groeplid (of hulle kan twee-twee een deel). 3. Ou papier om op die tafels te sit sodat hulle met gom daarop kan werk. Leef soos Jesus LP3 Jaar 4 © Jeugfokus 2015
Voor die tyd
Voor die tyd
1. Maak reënboë van papier, een vir elke groeplid. Die regte volgorde van die kleure is: rooi, oranje, geel, groen, blou, indigo (pers) en violet (rooipers).
Leef soos Jesus LP3 Jaar 4 © Jeugfokus 2015
Die storie Begin Wie van julle het al by ʼn toe deur omgedraai? Was julle bly of spyt die deur was toe? Wie het al by iemand gaan kuier, maar toe julle daar kom, was die mense nie by die huis nie? Gebruik gou jou verbeelding. Jy toer deur ʼn stad en het gehoor van ʼn pragtige nuwe gebou wat daar gebou is. Dit is ʼn baie spesiale gebou en bestaan heeltemal uit blou glasvensters. Dit lyk soos ʼn enorme blou blok – amper so blou soos die lug. Jy wil graag by die gebou ingaan om te gaan kyk hoe dit aan die binnekant lyk. Jy wil ook hoor wat hulle binne-in die gebou doen. Maar die deurtjies aan die voorkant is toe. Al wat jy sien, is die groot blou glasvensters. (Wys die foto hieronder.)
Vandag se Bybelstorie is baie spesiaal. Iemand het dit ʼn deurbraak genoem. Weet julle wat ʼn deurbraak is? Dit is wanneer dit gelyk het of iets heeltemal toe is en jy nooit daardeur sal kan kom nie, maar toe verander dit. Jy kan doen wat jy wil doen. Dít is ʼn deurbraak. Dit beteken jy het iets oopgebreek en deurgebreek. Die Israeliete, later die Jode genoem, het geweet die Here is baie lief vir hulle. Hulle het mekaar altyd daaraan herinner dat die Here hulle uit Egipte gehaal het toe hulle slawe daar was. Hy het hulle toe na ʼn nuwe land laat trek. Die Jode het verwag dat God vir hulle ʼn nuwe koning sou stuur en dat daar ʼn nuwe Joodse koninkryk sou ontstaan waarin die Jode welkom was. Ander mense moes eers Jode word en alles doen wat Jode doen voordat hulle deel van hierdie koninkryk sou kon wees. Die Jode het eers gedink Jesus is hierdie nuwe koning, maar toe Hy gekruisig is, het net party bly glo Hy is waarlik die nuwe Koning. Toe Jesus uit die dood opstaan, het die Jode nog nie sy koninkryk heeltemal Leef soos Jesus LP3 Jaar 4 © Jeugfokus 2015
verstaan nie. Is hierdie koninkryk vir almal, of net vir die Jode? Kom ons luister hoe die Bybel hierdie storie vertel. Hoor Moment 1: Handelinge 10:1-8 – Die beweging van Kornelius se kant af Daar was ʼn belangrike man met die naam Kornelius. Hy was nie ʼn Jood nie, maar hy het baie vir die arm Jode gedoen en selfs die Jode se God aanbid. Een middag, teen ongeveer drie-uur, het Kornelius ʼn vreemde gesig gesien. Dit was van ʼn engel wat na hom geroep het: “Kornelius!” Die engel sê toe vir hom God sien wat hy doen en dat hy van sy manne moet stuur om vir Simon, wat ook Petrus genoem word, te gaan haal. Hulle sal hom in die stad Joppe by die see kry, by ʼn ander Simon, die een wat met leer werk. Kornelius stuur toe drie mans om vir Petrus te gaan haal. Moment 2: Handelinge 10:9-16 – Petrus se gesig (visioen) Intussen het daar ook iets anders gebeur. Petrus het teen twaalfuur die middag gaan bid op die dakstoep van die huis waar hy gebly het. Hy was al baie honger en het gewag dat die mense die kos moes klaarmaak. Toe sien Petrus ook ʼn vreemde gesig: Dit was asof die hemel oopgegaan het. ʼn Groot doek, soos ʼn enorme laken wat aan sy punte vasgehou word, het uit die hemel neergedaal. Daar was allerhande diere en wilde voëls in die laken. Toe hoor Petrus ʼn stem wat sê hy moet die diere slag en eet. Die Jode het nie sommer enige diere of voëls geëet nie. Die Here het in Moses se tyd vir hulle gesê wat hulle kon eet – soos skape, bokke en beeste – en wat hulle nie mag geëet het nie – soos perde, varke en diere met kloue. Die diere wat hulle mag geëet het, het hulle rein diere genoem. Al die ander diere was onrein diere. Toe Petrus hierdie gesig sien, roep hy: “Nooit nie, Here! Ek eet nie onrein diere nie.” Toe sê die stem vir hom: “As God iets rein gemaak het, mag jy nie sê dit is onrein nie.” Dit het drie keer gebeur. Daarna is die doek weer in die hemel opgetrek. Wat, dink julle, het dit beteken? Moment 3: Handelinge 10:17-23a – Petrus word deur Kornelius se gesante genooi en deur die Heilige Gees saamgestuur Terwyl Petrus nog gewonder het wat die gesig beteken, het Kornelius se drie afgevaardigdes daar aangekom. Die Heilige Gees sê toe vir Petrus: “Daar is drie manne wat na jou soek. Gaan saam met hulle. Moenie twyfel nie. Ek het hulle gestuur. Gaan gerus saam.” Toe Petrus van die dakstoep af klim, was die drie mans net mooi by die huis. Hulle vertel toe vir hom van die gesig wat Kornelius gesien het en vra dat Petrus met hulle moes saamgaan. Leef soos Jesus LP3 Jaar 4 © Jeugfokus 2015
Toe doen Petrus iets interessants. Hy het die mans ingenooi en vir hulle blyplek tot die volgende dag gegee. Hulle was nie Jode nie, en gewoonlik het die Jode nie die nie-Jode in hulle huise ingenooi nie. Hulle het beslis ook nie by ʼn nie-Jood se huis ingegaan nie. Die Jode het geglo nie-Jode is onrein, net soos onrein diere. Wat, dink julle, het nou gebeur? Moment 4: Handelinge 10:23b-33 – Petrus ontmoet vir Kornelius Die volgende dag het Petrus saam met die drie mans gegaan en nog ʼn paar ander mense, wat ook in Jesus geglo het, saamgeneem. Intussen het Kornelius al sy vriende en huismense bymekaargeroep en saam het hulle op Petrus gewag. Toe Petrus naby Kornelius se huis kom, het Kornelius uitgegaan en voor Petrus gekniel. Maar Petrus het gesê hy moet opstaan, want hy, Petrus, is ook maar net ʼn gewone mens. En wat doen Petrus toe? Hy het by hierdie nie-Jood se huis ingegaan. Toe hy al die mense daar sien, vertel hy vir hulle dat God vir hom gewys het hy mag geen mens as onrein beskou nie. Kornelius vertel toe vir Petrus dat die engel vir hom gesê het hy moet vir Petrus laat haal, en dat hulle graag wil luister na wat Petrus vir hulle wil sê. Toe begin Petrus praat. Moment 5: Handelinge 10:34-43 – Petrus se toespraak Vir God is elke mens belangrik. Dit maak nie saak of jy ʼn Jood of ʼn nieJood is nie. Petrus het vir hierdie mense vertel van Jesus en van alles wat Hy op aarde gedoen het, alles waarvan hy en die ander dissipels getuies was. Hy het ook vertel dat hulle Jesus gekruisig het, maar dat God Hom op die derde dag uit die dood opgewek het. Petrus het getuig dat Jesus aan sekere mense verskyn het sodat hulle getuies kon wees dat Hy waarlik leef. Elkeen wat in Hom glo se sonde word vergewe. Kom ons dink gou aan iets voordat ons verder na die storie luister. Onthou julle wat met die dissipels gebeur het nadat Jesus opgevaar het na die hemel en hulle daar by mekaar gewag het? Ja, die Heilige Gees het gekom en hulle het in verskillende tale begin gepraat. Moment 6: Hand 10:44-48 – Die “heidene” ontvang dieselfde teken as die Joodse gelowiges op die Pinksterdag (“net soos ons”) Dit is presies wat hier weer gebeur het. Terwyl Petrus nog oor Jesus praat, kom die Heilige Gees na al hierdie nie-Jode en laat hulle in allerhande tale praat en die Here loof en prys. Die gelowiges wat saam met Petrus na Kornelius toe gegaan het, het gehoor dat die nie-Jode dieselfde teken gekry het as wat Petrus en die ander dissipels ontvang het toe die Heilige Gee op hulle uitgestort is. Toe sê Petrus: “Hierdie mense het net soos ons die Heilige Gees ontvang.” As ʼn teken dat hulle nou ook deel was van Leef soos Jesus LP3 Jaar 4 © Jeugfokus 2015
almal wat in Jesus glo, het Petrus die mense gedoop. Petrus het nog ʼn paar dae daar gebly en toe teruggegaan Jerusalem toe. Wat, dink julle, het in Jerusalem gebeur? Moment 7: Handelinge 11:1-18 – Petrus verduidelik vir die gemeente in Jerusalem wat gebeur het Die Jode in Jerusalem was vies vir Petrus. “Jy het in onrein mense se huis ingegaan.” Petrus vertel toe vir hulle die hele storie, van die gegin tot die einde. Toe hulle dit hoor, het hulle God geprys en gesê: “God het nou ook die nuwe lewe aan nie-Jode gegee.” Van toe af het almal geglo: Jesus red alle mense, nie net die Jode nie. Dit is die Goeie Nuus van Jesus waarvan die Nuwe Testament ons vertel. Dink Maak nou julle oë toe. Dink aan die prent van die gebou met die glasvensters waarna ons netnou gekyk het, die gebou met die toe deurtjies aan die voorkant. Daar is ʼn groot verrassing by daardie kerk, want wanneer die gelowiges daar bymekaarkom, gebeur daar iets wonderliks. Maak nou julle oë oop. Wys die volgende twee prente:
Leef soos Jesus LP3 Jaar 4 © Jeugfokus 2015
Leef Die groot deure van hierdie kerk wys dat Jesus se hart oop is vir alle mense. Hierdie kerk se naam is dan ook die Hart van Jesus-kerk. Wanneer die groot deure oopgaan, sien jy die kruis. Die groot deure staan dan soos oop arms om almal in te nooi. Hierdie foto kan ons diep in ons hart en gedagtes bêre. Wanneer ons na Jesus toe gaan, is sy hart en arms vir ons oop. Hy maak sy hart en arms vir álle mense oop. Ons kan dit vir almal gaan wys en vertel.
Leef soos Jesus LP3 Jaar 4 © Jeugfokus 2015
Kleingroepvaslegging: Junior groep Welkom Groet almal hartlik. Elkeen kan ʼn gekleurde papiertjie kies (een van die reënboogkleure). Wegspring Hou julle papiertjies vas en gaan staan in die regte volgorde van die reënboog se kleure. Opmerking: As daar te min groeplede is, pak die papiertjies net in die regte volgorde op ʼn tafel uit. Werksaam 1. Kyk na die prentjie in jou werkboek. Dit herinner jou aan die Hart van Jesus-kerk wat jy vandag gesien het. 2. Vertel weer die verhaal van Petrus en Kornelius vir mekaar. 3. Teken nou ʼn duif op die geel opening. 4. Gesels saam oor die Heilige Gees wat woon in almal wat in Jesus glo.
Leef soos Jesus LP3 Jaar 4 © Jeugfokus 2015
Wegstuur/Huisgeloof 1. Wys jou prentjie vir die mense by die huis en vertel vir hulle die storie van Petrus en Kornelius. 2. Lees die volgende gedeeltes saam: Handelinge 2:1-4 – Die Heilige Gees word in Jerusalem op die dissipels uitgestort én op Jode wat in Jesus glo. Handelinge 10:44-47 – Die nie-Jode in Sesarea kry ook die teken dat die Heilige Gees in hulle kom woon het. Handelinge 19:1-2, 4-7 – Die mense in Efese (ʼn plek ver van Jerusalem af) het van Jesus gehoor en in Hom begin glo, maar nou hoor hulle ook van die Heilige Gees en kry dieselfde teken dat Hy by hulle is. 3. Onthou: Die Heilige Gees woon in almal wat in Jesus glo.
Leef soos Jesus LP3 Jaar 4 © Jeugfokus 2015
Kleingroepvaslegging: Senior groep Welkom Groet almal hartlik. Elkeen kan ʼn gekleurde papiertjie kies (een van die reënboogkleure). Wegspring 1. Noem die kleure van die reënboog in die regte volgorde op. 2. Watter van hierdie kleure, dink julle, is die kleure van Pinkstertyd? 3. Waaraan dink ons in Pinkstertyd? 4. Waarom, dink julle, is ʼn duif en vuurvlamme die simbole wat ons in Pinkstertyd gebruik? Wonder Maak julle oë toe en dink na oor taal en klanke en liefhê. 1. Watter taal wat jy al gehoor het, klink vir jou die mooiste? 2. Laat iemand 1 Korintiërs 13:1 drie keer stadig hardop lees: “Al praat ek die tale van mense en engele, maar ek het geen liefde nie, het ek ʼn stuk klinkende metaal, ʼn galmende simbaal geword.” 3. Laat die kinders hierdie vers in die werkboek voltooi. Werksaam Kyk weer saam na Handelinge 10:1 – 11:18. (Opmerking: Die gedeelte kan in kleiner dele opgedeel word sodat elkeen net een deel van die verhaal bestudeer en dan vir die ander vertel wat hulle ontdek het). 1. Maak nou in jou werkboek ʼn lys van al die karakters in vandag se storie, al ken jy nie hulle name nie. Dit kan ook ʼn groep mense wees. 2. Skryf langs elke karakter of groep neer die belangrikste dinge wat hulle gesê het (as hulle gepraat het). 3. Besluit saam watter drie uitsprake in vandag se storie die heel belangrikste is. Wegstuur/Huisgeloof 1. Lees die volgende gedeeltes saam: Handelinge 2:1-4 – Die Heilige Gees word in Jerusalem op die dissipels uitgestort én op Jode wat in Jesus glo. Handelinge 10:44-47 – Die nie-Jode in Sesarea kry ook die teken dat die Heilige Gees in hulle kom woon het. Handelinge 19:1-2, 4-7 – Die mense in Efese (ʼn plek ver van Jerusalem af) het van Jesus gehoor en in Hom begin glo, maar nou hoor hulle ook van die Heilige Gees en kry dieselfde teken dat Hy by hulle is. 2. Gesels saam oor Pinkster en die Heilige Gees wat woon in almal wat in Jesus glo.
Leef soos Jesus LP3 Jaar 4 © Jeugfokus 2015